fbpx
Vryheidsfront Plus

Provinsie moet ingryp by Govan Mbeki se waterkrisis

Die VF Plus het die waterkrisis in die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (GMM) nou na provinsiale vlak geëskaleer en Mpumalanga se LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), mnr. Mandla Msibi, versoek om dringend ʼn ooreenkoms tussen die munisipaliteit en die waterverskaffer Randwater te onderhandel.

Die GMM (Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt) is op sy knieë deurdat Randwater minder as die helfte van die aangewese water vir die munisipaliteit deurlaat weens wanbetaling.

Die munisipaliteit se uitstaande skuld aan Randwater beloop sowat R753 miljoen waarvan R712 miljoen agterstallig is. Die rente op die agterstallige bedrag beloop ʼn skreiende R6 miljoen per maand.

ʼn Afbetalingsooreenkoms is vantevore aangegaan, maar die GMM eerbiedig dit nie.

In sekere gebiede in die munisipaliteit is krane reeds vir etlike dae droog omdat reservoirs en watertenks lankal leeggeloop het.

Inwoners is nie eens in staat om huishoudelike toerusting wat met water werk, aan die gang te hou nie weens die lae waterdruk.

Dit is onregverdig dat Randwater getroue belastingbetalers straf vir die ANC-beheerde GMM se sondes.

Die VF Plus het vanoggend ʼn ultimatum gerig aan die munisipale bestuurder, mnr. Ndaba Maseko, waarin aangedring word dat ’n streng afbetalingsooreenkoms ter tafel gelê word.

GMM moet ook ’n duidelike skuldverhalingsplan uitwerk sodat inwoners wat agterstallig is met hul rekeninge, dit spoedig kan vereffen.

VF Plus eis terugvoer binne sewe werksdae.

Die VF Plus het al telkemale die ANC gewaarsku oor sy wanadministrasie van die munisipaliteit en dat dit gaan lei tot die totale ineenstorting van dienslewering.

GMM verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.