"Net soos die Nuwe Nasionale Party ‘n ‘Kortbroek’-figuur gehad het wat die einde van sy party veroorsaak het deur inkorporering by die ANC, net so het die Good-party nou sy eie “Kortrok’ wat ook die einde van dié party gaan beteken," sê Peter Marais, VF Plus-LPW in die Wes-Kaap.
Patricia de Lille, nuwe minister van openbare werke en infrastruktuur, het die bruin kiesers wat vir haar gestem het, uitverkoop ter wille van ‘n pos by die ANC.
Marais sê die vraag kan met reg gevra word of die ANC hierdie skuif met haar onderhandel het terwyl sy as leier van Good aan die verkiesingsveldtog deelgeneem het.
"Indien wel, is sy ‘n verduideliking verskuldig aan elke persoon wat Good met hul stem vertrou het."
"Hierdie optrede van De Lille volg presies dieselfde patroon soos met haar vorige party, die Onafhanklike Demokrate (OD), wat gevorm is nadat sy in 2003 van die PAC weggebreek het.
"Die OD het kort daarna ook van die toneel verdwyn het toe De Lille, net soos nou, haar party opgeoffer het vir ‘n hoë pos by die Demokratiese Alliansie (DA).
"Kiesers wat in die pas afgelope verkiesing vir Good gestem het, het dit juis gedoen omdat hulle ‘n politieke tuiste wou hê waar die bruines as minderheid in die besonder ‘n stem sou hê om hul belange te verdedig teen verdrukking van die meerderheid van die ANC-regering.
"De Lille het nou, net soos met die OD, net die teenoorgestelde gedoen en hierdie vertroue in haar verloën deur ‘n kabinetspos by die meerderheidsparty te aanvaar waar onteiening sonder vergoeding ook deur haar departement gedryf sal moet word en waar minderhede totaal op die agtergrond geskuif word wat werkgeleenthede, taal en moedertaal-onderrig aanbetref.
"Kiesers moet hiervan kennis neem, asook van die feit dat hul enigste alternatief nou die VF Plus is wat reeds ‘n tuiste bied aan al die minderhede van Suid-Afrika," sê Marais.