"Die ANC-regering moet die volle verantwoordelikheid neem vir die nuwe vlaag Covid-19-infeksies en vir die feit dat die gesondheidstelsel ná langer as ’n jaar steeds nie gereed is vir die pandemie nie," sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
"Die eerste inperkings vroeg verlede jaar was juis om die gesondheidstelsel in gereedheid te bring en om veldhospitale in te rig.
"Veldhospitale wat teen miljoene rande opgerig is, is nooit ten volle benut tydens die eerste en tweede golf infeksies nie en het in onbruik verval of is tot niet gemaak. Nou is dit aller noodsaaklik in die huidige krisisuur waar ’n groot tekort aan beddens en noodsorg ondervind word.
"Die regering moet veral verantwoordelikheid neem vir die feit dat baie min Suid-Afrikaners tot nou toe ingeënt is en vir die skrale hoop dat kudde-immuniteit gou bereik sal word. Die mikpunt was ’n inentingskoers van 70% teen die einde van die huidige jaar wat nou totaal buite bereik is met minder as 4% van die bevolking wat ingeënt is.
"Suid-Afrika en veral sake-ondernemings soos restaurante en hul werknemers ly nou onder die regering se onbevoegdheid.
"’n Meer streeksgebonde benadering moet gevolg word om die verspreiding van die virus te verminder met so min as moontlik skade aan die ekonomie wat verdere streng inperkings nie meer kan bekostig nie. ’n Reisverbod uit en na Gauteng is ’n voorbeeld van wat gedoen kan word. Dit is egter veels te min."
"Gesondheidsprotokolle moet beter gepolisieer word. Dit is duidelik dat die publiek toenemend die protokolle verontagsaam en die VF Plus doen ’n dringende beroep op mense om daarop ag te slaan aangesien dit lewens kan red.
"Hierdie polisiëring moet gelykmatig toegepas word. Dit is sinneloos om jag te maak op maklike teikens soos enkele mense soos voorheen op strande gesien is. In groot stede word daagliks gesien hoe mense hulle nie steur aan voorskrifte in dié verband nie. Dit is ’n groot rede vir vinnige virus-verspreiding.
"Daar moet steeds ’n balans wees tussen die red van lewens en mense se lewensbestaan en die huidige krisis met die derde vlaag kon anders daar uitgesien het indien die regering behoorlik voorberei het.
"Die VF Plus het volle begrip vir die uiters moeilike omstandighede waaronder gesondheidspersoneel werk en die frustrasies wat hulle ervaar. Die party wil hulle bedank vir die feit dat hulle onder werklik lewensgevaarlike omstandighede steeds hul taak verrig.
"Die stadium is bereik waar met reg gevra kan word hoeveel mense onnodig gaan sterf omdat die regering die land in die steek gelaat het en nie behoorlik en reg voorberei het vir die pandemie nie," sê Groenewald.