"Die minister van polisie, Bheki Cele, moet ophou om verskonings uit te dink en sy werk doen om toe te sien dat oud-president Jacob Zuma in hegtenis geneem word. Zuma is nie verhewe bo die reg dat hy kan aandring op spesiale behandeling nie," sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
"Die gebeure van die naweek waar ’n skare by Nkandla byeengekom het, ontbloot ook die onbevoegdheid van die polisie. Die onvermoë van die polisie om skarebeheer toe te pas, dui ook op gebrekkige opleiding wat skarebeheer aanbetref.
"Indien die polisielede wel behoorlike opleiding in dié verband gehad het, sou hulle geweet het hoe om die situasie korrek te hanteer en sou mense in hegtenis geneem gewees het vir die verbreking van Covid-19-veiligheidsmaatreëls.
"Die verskoning van minister Cele dat die polisie oor inligting beskik het dat mense in skare vuurwapens in hul besit gehad het, is ’n swak verskoning."
"Dit sou beteken dat organiseerders van massa-byeenkomste in die toekoms net moet sorg dat van die mense bewapen is om polisie-optrede vry te spring.
"Die minister is besig om mense te mislei oor die selektiewe optrede van die polisie. Dit blyk duidelik uit die polisie se versuim om teen die EFF op te tree tydens ’n protesoptrede in November verlede jaar by die Hoërskool Brackenfell, asook tydens verlede maand se protesoptrede van die EFF by die SA Gesondheidsprodukte-beheerraad (Sahpra) se kantore in Pretoria.
"Met dié protesoptredes was daar geen verskoning van vuurwapens in die skare nie, maar die polisie het steeds nie opgetree en mense in hegtenis geneem nie.
"Die vuurwapen-aangeleentheid is dus ’n rookskerm om weereens die onbevoegdheid van die polisie te verbloem."
"Minister Cele maak homself daaraan skuldig om die indruk te wek dat politiek ’n groot rol in die optrede van die polisie speel. Met optogte van die EFF, die ANC of soos nou by Nkandla, soek hy verskonings om nie op te tree nie.
"Dit skep die indruk by die publiek dat hy polities gedienstig is en op dié gronde besluit oor optrede.
"Die hele aangeleentheid ondermyn die strafregstelsel in Suid-Afrika en die VF Plus se standpunt is dat die organiseerders van hierdie byeenkomste in hegtenis geneem moet word, selfs al is dit ná die optog."
"Die polisie behoort deur sy intelligensievermoë en kameras op die toneel van optogte goed te weet wie die organiseerders is. Dié mense moet in hegtenis geneem en aangekla word. Dit sal ’n duidelike boodskap stuur dat inperkingsmaatreëls nie sonder meer tydens optogte verontagsaam kan word nie.
"Hierteenoor is verskeie voorbeelde van optrede en die inhegtenisneming van enkele persone soos mense op strande wat nie hul maskers gedra het nie.
"Dit is ’n swak poging tot magsvertoon. Polisie-optrede sal eers geloofwaardig wees wanneer daar voor die voet teen oortreders soos by Nkandla opgetree word. Cele moet ophou om toe te laat dat politiek die optrede van die polisie rig," sê Groenewald.