fbpx
Vryheidsfront Plus

Nuwe tariefverhogings skop vandag af in Johannesburg

Die VF Plus in Johannesburg se metroraad is gekant teen die tariefverhogings wat vanaf vandag vir alle verbruikers geld en het vir die tweede agtereenvolgende jaar teen die verhogings gestem hoofsaaklik weens die groot finansiële impak wat die Covid-19-pandemie op inwoners het.

Die VF Plus is terdeë bewus daarvan dat watertarief-verhogings deur Randwater voorgestel word en die elektrisiteitstarief-verhogings deur Nersa bepaal word.

Die party het dit met die begrotingsdebat duidelik gemaak dat verbruikers onder finansiële druk verkeer. Baie mense het hul werk weens die pandemie verloor en ander moes noodgedwonge ‘n inkomste-vermindering aanvaar.

Om tariewe te verhoog is in die huidige omstandighede onwenslik en verbruikers word onnodig daardeur gestraf.

Verbruikers sou eerder wou hoor dat tariewe onveranderd bly om hulle sodoende in staat te stel om hul verantwoordelikhede teenoor die metro na te kom.

Die metroraad is ongevoelig teenoor verbruikers se finansiële vermoë en stoomroller nuwe tariewe deur om seker te maak dat kaders en amptenare hul volle salaris elke maand ontvang.

Baie maatskappy daarenteen het die afgelope twee jaar nie salarisverhogings voorgestel nie en die inflasiekoers het vir die eerste keer in 36 maande bo 5% gestyg.

Die tariefverhogings is as volg:
Elektrisiteit – 14.59%
Water – 6.8%
Eiendomsbelasting: 2%
Vullisverwydering: 4.3%

Die VF Plus sal onverpoos voortgaan om vir die belange van inwoners te veg, hul regte te beskerm en ongeregtigheid uit te wys.

Inwoners van Johannesburg word aangemoedig om seker te maak hulle is geregistreer om op 27 Oktober saam met die VF Plus op te staan, saam te staan en ‘n bevoegde raad te verkies wat hul belange op die hart dra.

Navrae: 082 809 0589

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.