fbpx
Vryheidsfront Plus

Gewelddadige betogings naby Hibberdene weens watertekorte moet voor deur van onbevoegde ANC gelê word

Die VF Plus veroordeel die gewelddadige protesoptrede van ontevrede inwoners van Hibberdene, Pumula en Umzumbe wat die N2 en R102 met brandende bande en klippe versper weens ‘n gebrek aan water in die Umzumbe-gebied.

Die huidige protesoptrede kan net voor die deur van die onbevoegde ANC-beheerde Ugu-distriksmunisipaliteit en provinsiale regering van KwaZulu-Natal gelê word.

Die Ugu-distriksmunisipaliteit wat die dorpe Harding, Hibberdene, Margate, Pennington, Port Edward, Port Shepstone, Scottburgh/Umzinto-Noord en Southbroom bedien, se probleme met waterverskaffing kom al oor ‘n geruime tyd en het oor die afgelope vyf jaar vererger.

In Maart het KwaZulu-Natal se LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Sipho Hlomuka, aan desperate inwoners van die KwaZulu-Natalse Suidkus ‘n kort- en langtermyn-ingryping belowe om die voortslepende waterkrisis op te los. Daar het niks van gekom nie.

Toerisme is een van die belangrikste bedrywe om vir die Suidkus inkomste te genereer, maar weens die gebrek aan dienslewering en veral die waterkrisis, word toeriste afgeskrik om die gebied te besoek.

Die VF Plus erken inwoners se reg om hul ontevredenheid met die gebrek aan dienslewering uit te oefen, maar dit moet geskied binne die raamwerk van die wet sonder om hulself te wend tot misdadigheid en om sodoende wetsgehoorsame inwoners se veiligheid te bedreig.

Die enigste langtermyn-ingryping vir inwoners van die KwaZulu-Natalse Suidkus is om seker te maak hulle is geregistreer as kiesers om met die plaaslike regeringsverkiesing van die onbevoegde ANC ontslae te raak.

Die tyd het aangebreek om saam met die VF Plus op te staan, saam te staan en ‘n sterk boodskap aan die ANC te stuur dat die vernietiging van munisipaliteite en dienslewering nie langer geduld sal word nie.

Navrae: 079 509 9067

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.