"Dit is betreurenswaardig dat die ANC vandag daarin geslaag het om weer beheer oor die Johannesburgse metro te verkry. Geoff Makhubo is verkies tot nuwe burgemeester," sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Die ANC het daarin geslaag om met die ondersteuning van partye soos die IVP 137 stemme op hul kandidaat te verenig. Die DA se kandidaat het 101 stemme gekry. Dit is dus duidelik dat sommige DA-raadslede vir die ANC-kandidaat gestem het.
"Die VF Plus het die DA se kandidaat ondersteun as deel van die 2016-koalisieooreenkoms tussen dié partye. Die VF Plus sal nie deel van die nuwe koalisieregering wees nie en sal dus ‘n opposisierol in die metro vervul."
"Die koalisieregering waarvan die VF Plus deel was wat sedert 2016 die metro regeer het, het daarin geslaag om in die afgelope drie jaar die metro se omstandighede te verbeter.
"Voor 2016 het Johannesburg onder ‘n ANC-regering verswak en het inwoners onder ontoereikende dienslewering gely.
"Dit is daarom jammer dat interne gevegte in die DA daartoe gelei het dat die koalisieregering tot ‘n val gekom het. Die VF Plus betreur dit en sal as opposisieparty in die raad ‘n waghondfunksie vervul en sy uiterste bes doen om steeds die inwoners en gemeenskap se belange te dien," sê Groenewald.