Die VF Plus verwelkom die bedanking (vroeë aftrede) van Supra Mahumapelo as premier in Noorwes, maar sal nie toelaat dat die bewerings van grootskaalse bedrog en korrupsie wat hom betrek, nie steeds deeglik ondersoek word nie. Die bedanking van die premier mag hom nie kwytskel van vervolging nie.
Die nalatenskap van Mahumapelo is gewelddadige betogings, wanbestuur, politieke binnegevegte, onstabiliteit, onreëlmatighede, bande met die omstrede Guptas, talle bewerings van korrupsie en die in duie stort van die provinsiale departement van gesondheid.
Die VF Plus het vandeesmaand 'n klag by die Openbare Beskermer (OB) gelê en haar versoek om bewerings van omvangryke bedrog en korrupsie waarby Mahumapelo betrokke is, te ondersoek. Hierdie bewerings behels onder andere sakebelange van Mahumapelo wat na bewering deur implementeringsagente wat deur die provinsie gekontrakteer is, befonds is.
"Noordwes het die afgelope tyd onherstelbare ekonomiese en finansiële skade gelei weens gewelddadige betogings wat met die beskadiging van eiendom gepaardgegaan het. Die ANC se binnegevegte was direk vir hierdie geweld verantwoordelik," sê Michal Groenewald, VF Plus-leier in Noorwes.
"Die ANC het weereens bewys dat hy nie in staat is om te regeer nie en dat sy binnegevegte en magsbeheptheid die land geweldige skade berokken," sê Groenewald.