Net ses van die 76 ingenieurs in diens van munisipaliteite in die Vrystaat is by die Ingenieursgraad van Suid-Afrika (ECCSA) geregistreer.
Dit blyk uit ‘n antwoord van die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Nkosazana Dlamini-Zuma, in antwoord op ‘n parlementêre vraag van die VF Plus.
Die antwoord dien as bewys dat ANC-rade se beheptheid met die regerende party se kaderontplooiing en beleid van regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) skadelik is vir die provinsie se dienslewering en infrastruktuur.
Daar is 58 vakante poste vir elektriese- (29) en siviele ingenieurs (29) wat tans nie gevul is nie.
Vrystaatse munisipaliteite se pad-, water- en rioolinfrastruktuur in baie dorpe is in ‘n krisis-toestand. Riool vloei in strate wat nie geteer of herstel word nie.
Die haglike toestande waarin ons inwoners leef, kan omgekeer word indien kundige en geregistreerde ingenieurs aangestel word.
Die realiteit is dat die ANC in die Vrystaat eerder werk uitkontrakteur en politieke-konneksies aanstel wat nie bevoeg is om die werk te doen nie.
Munisipaliteite soos Matjhabeng bestee miljoene aan kontrakteurs om lapwerk aan stukkende rioolpype te doen, maar doen niks aan die vervalle infrastruktuur nie.
Die ANC verruil duidelik kundiges vir kaders en mors geld wat vir dienste aangewend kon word.
Die VF Plus sal in vrae aan die provinsiale departement van Cogta eis dat die LUR, mnr. Mxolisi Dukwana, aandui hoe daar seker gemaak sal word dat genoeg geregistreerde ingenieurs in munisipaliteite aangestel word.
Die Vrystaat verdien beter as die ANC.