Die uurglas begin leegloop vir Suid-Afrika wat die vyf Amerikaanse voorwaardes vir die normalisering van verhoudinge tussen die lande ‘n jaar lank met minagting geïgnoreer het.
Dié voorwaardes is presies ‘n jaar gelede met die VF Plus se historiese besoek aan Washington en die Withuis aan die party oorhandig om aan die Suid-Afrikaanse regering oor te dra.
Dit is gedoen, maar daar is geen ag op geslaan nie. Die ANC, wat Suid-Afrika se buitelandse beleid as hoofsaaklik sy eie domein beskou, het voortgegaan asof die VSA se versoek nie bestaan nie.
Dit het geboemerang. ‘n Week gelede het Amerika sy Pepfar-mediese befondsing aan Suid-Afrika direk hieroor opgeskort. Vandag het die VSA se ambassadeur na Suid-Afrika, Leo Brent Bozell III, nog ‘n waarskuwingskoot oor die boeg gevuur met ‘n X-inskrywing wat lui:
“Die regering van Suid-Afrika rol die rooi tapyt uit vir Iran se adjunkminister van buitelandse sake terwyl sy adjunkpresident (Paul Mashatile) in Beijing is om bande tussen dié lande te versterk. Pretoria sê hy is onverbonde, maar ons (die VSA) noem dit reguit: ‘n Keuse. Suid-Afrika se mense verdien ‘n eerlike gesprek oor wie hul regering kies om mee saam te staan”.
’n Afrikaner-afvaardiging het Amerika in Junie 2025 besoek om onder meer bilaterale verhoudinge tussen die lande te bespreek.
Vergaderings is gehou met senior amptenare van die Withuis, die departement van buitelandse sake, die senaat, huis van verteenwoordigers, landbouorganisasies en die Hudson-instituut.
Tydens die gesprekke het die Withuis vyf duidelike en billike voorwaardes gehad om betrekkinge met Suid-Afrika te herstel. Dit is:
- Plaasaanvalle moet as ’n prioriteitsmisdaad geklassifiseer word en meer hulpbronne moet toegewys word om dit te bestry.
- Die uitlating “Kill the Boer” moet openlik en ondubbelsinnig veroordeel word.
- Geen grondonteiening mag plaasvind sonder billike markvergoeding nie.
- Amerikaanse ondernemings moet vrygestel word van SEB-vereistes wat as ’n handelshindernis beskou word.
- Ware onverbondenheid in internasionale betrekkinge.
Die onlangse onttrekking van sowat R8 miljard se Amerikaanse Pepfar-befondsing vir gesondheidshulp aan Suid-Afrika is ’n direkte uitvloeisel van Suid-Afrika se weiering om stappe te neem oor dié geïdentifiseerde knelpunte.
Washington het duidelik nie vergeet van die voorwaardes wat gestel is nie, ten spyte van die ANC se traak-my-nieagtige houding in die waarskynlike hoop dat dit dalk mettertyd sal verdwyn of dat dit net leë dreigemente aan die VSA se kant is.
Die redes vir die Pepfar-besluit is aan belanghebbendes in die Amerikaanse kongres oorgedra waar dit duidelik gemaak is dat die optrede deel vorm van ‘n algemene herbeskouing van die verhouding tussen die VSA en Suid-Afrika.
Dit is ook benadruk dat die kansellering van die befondsing gesien moet word as ‘n strategiese sein wat die verhoudinge tussen die lande aanbetref.
Soos die onverbondenheid wat buitelandse betrekkinge aanbetref, gaan dit hier oor breër en algemene bilaterale beleidskwessies tussen die lande eerder as afsonderlike aspekte daarvan.
Dit is jammer dat die ANC hierdie kritieke geleentheid om bande te herstel, verlore laat gaan het ten koste van alle gewone Suid-Afrikaners.
Daar kan nie verder hieroor voete gesleep word nie en die regering sal dit met die nodige erns moet benader. Amerika se vier vereistes sal terugplaas moet word op die nasionale agenda.
Wat die kansellering van die Pepfar-befondsing aanbetref, sal die ANC die verantwoordelikheid moet aanvaar vir die lyding en lewensverlies wat mag voortspruit uit die gebrek aan lewensbelangrike mediese hulp.


