Die Vryheidsfront Plus het in die evaluering van die ministers vir die 2018-jaar besluit om al die lede van die kabinet ‘n FF-druippunt te gee.
"Die rede is dat ‘n aantal veranderinge gedurende die jaar gemaak is aan die kabinet en sommige minister ‘n kort tydperk in portefeujes is en was," het Pieter Groenewald, VF Plus-leier tydens 'n mediakonferensie Woensdag in Kaapstad gesê.
Groenewald het VF Plus se rapport oor die ANC se verrigting die afgelope jaar met die media gedeel.
Hy sê die belangrikste is egter dat die afsonderlike ministers as lede van die kabinet, kollektief verantwoordelikheid moet neem van hoe die land regeer is en kan nie net skouers optrek nie.
"Die kabinet, as uitvoerende gesag, kry nie net ‘n druippunt nie, maar pres Cyril Ramaphosa het gefaal in sy grondwetlike plig ten opsigte van nasiebou in Suid-Afrika," het Groenewald gesê.
Hier volg die VF Plus en Dr. Groenewald se rapport:
Die grootste krisis van Suid-Afrika is werkloosheid weens sy swak ekonomie. Mense se grootste behoefte is om ‘n stabiele werk en inkomste te hê, en die regering faal die burgers van Suid-Afrika in hierdie verband. Die regering kry ‘n swak FF-simbool (23%) en die rede is soos volg:
Gedurende die 2017/18 boekjaar het nasionale en provinsiale departemente se oudit uitkomste verswak. Slegs 23% van departemente het skoon oudits ontvang. Onreëlmatige uitgawes het tot R51 miljard gestyg en vrugtelose en verkwiste uitgawes met 200%.
Finansiële wanbestuur, korrupsie en mislukte beleidsrigtings laat Suid-Afrika op 'n fiskale afgrond afstuur.
"Suid-Afrika het tans die hoogste jeug werkloosheid in die wêreld met 57.4% van jeug wat werkloos is"
Meer as 40% van die staat se begroting word aan salarisse bestee. Gratis hoër onderwys en die onvolhoubare maatskaplike afhanklikheid van die meerderheid Suid-Afrikaners veroorsaak 'n geweldige begrotingstekort en 'n toename in staatskuld.
Die regering het gedurende 2018 gefaal om beleggingsekerheid te skep, veral met die aanvaarding van die beginsel van onteiening sonder vergoeding, en om 'n gunstige omgewing vir die privaat sektor daar te stel om sodoende werk te skep.
Werkloosheid is 'n krisis. Suid-Afrika het tans die hoogste jeug werkloosheid in die wêreld met 57.4% van jeug wat werkloos is.
Die regering se mislukking gedurende 2018 word deur die groter wordende krisis met betrekking tot uitstaande skuld deur munisipaliteite aan Eskom beklemtoon. Nog 'n jaar is verby terwyl daar geen oplossing vir hierdie probleem gevind is nie. Daar word vir die afgelope twee jaar geploeter van dreigemente om kragtoevoer na munisipale gebiede te sny tot onvolhoubare betalingsooreenkomste. Elektrisiteitstoevoer na waterpompstasies is gedurende hierdie jaar in verskeie dorpe deur Eskom weens die munsipaliteite se wanbetaling gesny wat die inwoners se grondwetlike reg van toegang tot skoon water skend.
Die totale uitstaande skuld van munisipaliteite aan Eskom is meer is R18 miljard.
Die landelike ekonomie ly hieronder met klein sakeondernemings wat reeds hul deure gedurende 2018 gesluit het en groter ondernemings wat afleggings doen weens gereelde krag- en wateronderbrekings wat produksie en handel kniehalter.
'n Verantwoordelike nasionale regering sou hul mandaat van samewerkende regering uitgevoer het en 'n werkbare oplossing vir hierdie voortslepende krisis bewerkstellig het. Die land se ekonomie ly as gevolg van die elektrisiteitskrisis.
"Ramaphosa het misluk om nasiebou en eenheid te bevorder"
Eskom se skuld het gedurende 2018 van R367 miljard tot R419,2 miljard toegeneem. Die rente op hierdie skuld beloop R45 miljard per jaar. Die entiteit se begrote verlies vir die 2018/19 boekjaar is R15 miljard terwyl daar nagenoeg R17 miljard aan salarisse bestee word. Korrupsie en wanbestuur is grootliks verantwoordelik vir hierdie sombere prentjie.
Vir die eerste keer in drie jaar is daar weer in 2018 met beurtkrag begin wat 'n negatiewe impak op die reeds sukkelende ekonomie het.
Suid-Afrika het gedurende die tweede kwartaal van 2018 'n tegniese resessie beleef met 'n inkrimping van 0.4%. Daar was herstel gedurende die derde kwartaal en die land het uit die resessie gekom, maar die beurtkrag het die ekonomie weer 'n knou toegedien.
Die beurtkrag van Eskom eis sy tol wat produksie betref en het 'n negatiewe uitwerking op beleggersvertroue.
Die staat se skuldlas belemmer die land se fiskale posisie. Die skuld tot BBP (Bruto Binnelandse Produk) verhouding het gedurende die afgelope jaar tot 55.8% gestyg met die rente op hierdie skuld wat R181 miljard beloop. Die begrotingstekort word groter terwyl die behoefte aan maatskaplike bystand meer word.
Hierdie jaar is verder gekenmerk deur die onthullings van staatskaping voor die Zondo kommissie en pres Cyril Ramaphosa is nou verbaas oor die omvang daarvan. Die werklikheid is dat pres Cyril Ramaphosa, as adjunk-president sedert 2014 en hoof van regeringsake in die Nasionale Vergadering, hiervan bewus moes gewees het en beteken dat hy nie sy werk behoorlik gedoen het nie. Die kabinet het verlede jaar reeds kennis geneem hiervan, maar niks gedoen om behoorlik op te tree en stappe aan te kondig hoe dit opgelos gaan word nie. Die Zondo-kommissie is nie die breinkind van pres Ramaphosa nie, maar ‘n opdrag van die vorige Openbare Beskermer, adv Thuli Madonsella.
Pres Cyril Ramaphosa het misluk om nasiebou en eenheid te bevorder. Art. 83(c) bepaal duidelik dat hy as president eenheid in Suid-Afrika moet bevorder. Met sy omstrede uitsprake waar hy gedurig verwys na wittes en dat hulle eintlik die oorsaak is van die probleme van Suid-Afrika skep polarisasie. Ander optredes van hom gee hom ‘n druippunt en F-simbool vir die jaar.
Redes hiervoor is soos volg:
Die president en die ministers moet besef dat hulle as lede van die uitvoerende gesag nie kan skouers optrek en sê dit is nie my departement nie, en daarom is ek nie verantwoordelik daarvoor nie. Die president en elke minister het ‘n plig teenoor mekaar en teenoor die mense van Suid-Afrika en hulle het totaal daarin gefaal.