fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC moet rekenskap gee oor MIV/vigs-slagting in Suid-Afrika (Debat in parlement: Wêreld-Vigsdag: Globale solidariteit en gedeelde verantwoordelikheid)

Die ANC se rol in die omvang van die MIV/vigspandemie en die dood van straks miljoene mense weens dié siekte kan nie geïgnoreer word nie. Nóg ‘n direkte gevolg hiervan is dat die land steeds die grootste vigs-probleem ter wêreld het.

Die eerste MIV-geval is in 1983 in Suid-Afrika gediagnoseer en alhoewel dit vinnig as ‘n wêreldwye pandemie erken is, het ‘n staat van ontkenning onder die ANC-regering vaardig geraak.

Veral onder die presidentskap van Thabo Mbeki van 1999 tot 2008 is die saad van ontkenning met oorgawe gesaai.

Nieteenstaande alle wetenskaplike bewyse dat MIV wel vigs veroorsaak, het Mbeki dit bly ontken. Hy het middels wat veral die oordrag tussen ‘n swanger ma en die fetus moes keer, selfs as gif bestempel.

Daarna het sy minister van gesondheid, Manto Tshabalala-Msimang, vigslyers probeer oorreed om eerder knoffel, beet, suurlemoen en die Afrika-wortel te gebruik as bewese middels om die siekte te behandel.

In ‘n stadium tydens die Mbeki-bewind is beraam dat sowat 900 mense daagliks weens vigs gesterf het. Die meeste hiervan was duidelik voorkombaar.

Nog ‘n vorige president se siening oor die oordraagbaarheid van die virus is ewe verstommend.

In ‘n saak in 2006 waar oudpres. Jacob Zuma van verkragting van ‘n MIV-positiewe vrou aangekla is, het hy getuig hy het nie ‘n kondoom gebruik nie, maar het wel gestort ná die voorval om te voorkom dat hy die siekte kry.

Dit is hierdie soort leiers aan wie miljoene Suid-Afrikaners wat aan ‘n dodelike siekte gely het, uitgelewer was.

Indien die regering nie so lank in ‘n staat van ontkenning verkeer het nie, sou Suid-Afrika vandag nie steeds met die grootste MIV/vigskrisis ter wêreld gesit het nie.

Altesame 13.9% van die land se bevolking is tans MIV-positief. Dit sluit ‘n kwart van alle vroue tussen 15 en 49 in. In 2002 was 3,68 miljoen mense in die land MIV-positief. Vandag staan die syfer op ‘n skrikwekkende 8,45 miljoen.

Met die Covid-19-pandemie het die regering weer die teenoorgestelde gedoen. Drakoniese maatreëls is ingestel wat so streng was dat dit die publiek grootliks toegang tot belangrike mediese sorg ontneem het.

Soos met ander ernstige siekte-toestande, was dit ook uiters nadelig vir MIV-lyers en dit het selfs meegehelp om die siekte op groot skaal te versprei. Dit is niks anders as ‘n verdere ontkenning van die probleem nie.

Luidens amptelike statistiek het 85 796 mense in 2022 in Suid-Afrika weens MIV/vigs gesterf.

Die ANC-regering het bloed aan sy hande weens sy hantering van die MIV/vigs-pandemie. Dit is tyd dat die publiek rekenskap hiervoor eis.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.