Die VF Plus waarsku die ANC al die afgelope 30 jaar dat beleidsrigtings wat onder meer privaat eiendomsreg bedreig, Suid-Afrika duur gaan kos – veral wat internasionale handel en beleggings betref.
Suid-Afrika moet sy eie probleme oplos, maar kan nie die gevolge wat sy beleid op buitelandse verhoudinge het, ignoreer nie.
Die VF Plus verwelkom die druk wat president Donald Trump se uitvoerende bevel op die Suid-Afrikaanse regering plaas om te herbesin oor die Onteieningswet, maar die onbedoelde gevolge gaan vernietigend wees.
Dit is weerlose Suid-Afrikaners wat nou gaan ly weens pres. Trump se uitvoerende bevel wat hulpbefondsing aan Suid-Afrika staak. Dit is daarom belangrik dat dié onverantwoordelike ANC-beleidsrigtings heroorweeg word.
Daar vind reeds grondgrype in die land plaas en dié wet se bepaling jeens “nul-vergoeding” tesame met die ANC en ander partye se onverantwoordelike populisme oor grond, skep ‘n omgewing waar grootskaalse vergrype ten opsigte van privaat eiendomsreg kan plaasvind.
President Cyril Ramaphosa moet die polisie opdrag gee om sterk op te tree om enige onwettige grondbesetting te stuit.
Broodnodige ekonomiese groei en geleenthede wat armoede en werkloosheid moet aanspreek, word gekortwiek weens die onsekerheid wat die Onteieningswet skep. Daar is beleidsekerheid oor privaat eiendomsreg nodig.
Die VF Plus is daartoe verbind om alles in die stryd te werp om toe te sien dat hierdie bepalings van die wet gewysig word.
Indien daar voortgegaan word met beleid wat die omgewing skep waarin menseregtevergrype kan plaasvind, sal handelsooreenkomste soos Agoa ook daaronder ly. Dit sal tot grootskaalse verlies aan werksgeleenthede en beleggings lei.
Dit is noodsaaklik dat Suid-Afrika verander na ‘n land wat nie gedryf word deur ‘n rasse-ideologie en diskriminerende wetgewing nie.
Die VF Plus sal die geleentheid wat hierdie internasionale druk bied, gebruik om toe te sien dat die regering van nasionale eenheid (RNE) die Onteieningswet wysig en beleidsekerheid herstel.
Dit word ook verwelkom dat die bevel erkenning gee aan die omstandighede van die Afrikaner, maar die VF Plus is daarvan oortuig dat die Afrikaner ‘n belangrike rol het om in Suid-Afrika speel en nie as vlugtelinge in die VSA of elders nie.
Die VF Plus doen ʼn beroep op die internasionale gemeenskap is om die Afrikaner se strewe na selfbeskikking te steun.


