Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Skole-atletiek in Noord-Kaap die naweek gekanselleer; opvoeding ly onder vakbonde

‘n Aankondiging van Noord-Kaap Skole Atletiek dat die naweek se sone-byeenkomste afgestel is, het skokgolwe deur die provinsie se ouergemeenskappe gestuur.

Dit is net nóg ‘n bewys dat openbare onderwys van die ANC-regering en verwante vakbonde verwyder moet word.

Die jaarlikse atletiekprogram behels dat huissport by skole deur sone-, streeks-, provinsiale – en nasionale byeenkomste opgevolg word. Vakbonde probeer die Noord-Kaapse onderwysdepartement vir die nie-nakoming van finansiële verpligtinge straf. Daarom het hulle ‘n “Work to Rule”-praktyk van stapel gestuur. Dit beteken dat onderwysers niks meer doen as wat reëls van hulle vereis nie. Sportafrigting bly dus in die slag.

Vir talle skole is die sportkalender een van die belangrikste items op die jaarprogram. Jong sportlui oefen die hele jaar, en veral in die Desember-vakansie, om hul beste prestasie moontlik te lewer.

Vakbonde benadeel hiermee die kinders, maar ook skole wat deurlopend koste aangaan om sport op ‘n bykans professionele peil aan te bied. Die opvoedkundige waarde van sport maak dat dit nie maar net ‘n luukse wat opgeoffer kan word nie.

Selfs as ‘n ooreenkoms met die departement tot stand kom, is die tyd verlore en kan nie sonder ernstige ontwrigting ingehaal word nie. Dit is oënskynlik iets wat die vakbonde nie pla nie.

Die Bela-wet waarvoor norme en standaarde vir toepassing tans voorberei word, neem onderwys reeds tot ‘n groter mate as tevore uit ouers en die skoolgemeenskap se hande. Teen hierdie agtergrond is die kansellering van atletiekbyeenkomste ‘n tydige waarskuwing dat die staat en vakbonde nie langer as wat nodig is, met onderwys vertrou kan word nie.

Vakbonde moet met hierdie soort optrede die wet op onbedoelde gevolge in ag neem. Dit kan daartoe lei dat jeugatletiek nie meer deur skole bemiddel word nie, maar dat klubs of ander organisasies die voortou neem. Dit sal ‘n belangrike stap wees om opvoeding en onderwys staatsbestand te maak.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.