fbpx
Vryheidsfront Plus

Afskryf van kragskuld bevorder kultuur van nie-betaling, vererger kragkrisis en dra by tot buitensporige verhoging in kragprys

Dit is verstommend en onaanvaarbaar dat president Cyril Ramaphosa meen die afskryf van agterstallige kragrekeninge in Soweto moet oorweeg word.

Optrede soos hierdie bevorder die kultuur van nie-betaling vir krag en dra direk by tot buitensporige verhogings in die kragprys soos die 18,65% wat Nersa vandag aangekondig het.

Eskom het die energiereguleerder vroeër gevra om 'n verhoging van 32%.

Hierdie verhoging hou glad nie tred met die ekonomiese realiteite van Suid-Afrika en die feit dat die meeste Suid-Afrikaners reeds onder die broodlyn leef nie.

Dit gaan veral die landbou-industrie swaar tref wat saam met die res van die land se sakesektor reeds sukkel om te oorleef weens beurtkrag.

Verbruikers wat getrou vir hul elektrisiteitsgebruik betaal, word nou verder gestraf vir regering se onbevoegdheid en vir dié wat nie vir krag betaal nie.

Volgens Ramaphosa kan skuld onder sekere omstandighede en op sekere voorwaardes afgeskryf word.

Die VF Plus stem glad nie saam met hierdie siening nie aangesien dit slegs die kultuur van nie-betaling, wat ‘n ANC-maaksel is, verder sal laat gedy.

Indien die huidige agterstallige skuld van nagenoeg R5 miljard wel afskryf word, sal dit die soveelste afskryf van Soweto se skuld wees. Sedert 2003 is R17.3 miljard se skuld van Soweto afgeskryf.

Duidelik het die inwoners van Soweto bloot voortgegaan om nie vir krag te betaal nie.

Die regering het geen plan om die buitensporige agterstallige skuld aan Eskom te hanteer nie. Munisipaliteite se uitstaande skuld aan die kragvoorsiener beloop tans meer as R60 miljard.

Die sentrale regering kan nie bekostig om meer van Eskom se skuld oor te neem nie aangesien die staat se skuld reeds geweldig hoog is.

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het in sy mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) aangekondig dat die tesourie ‘n gedeelte van Eskom se skuld gaan oorneem.

Eskom se skuld bly egter die belastingbetaler se probleem en vir die ANC-regering om agterstallige skuld af te skryf as deel van 'n populistiese verkiesingsveldtog, gaan die reeds oorbelaste middelklas onder verdere druk plaas.

Die ANC het vir bykans 30 jaar nie aandag gegee aan die armes in townships en informele nedersettings nie.

Dié party se fokus was eerder om ‘n handjievol kaders en vriende te verryk ten koste van die armes.

Met die 2024-verkiesing in sig, probeer die ANC nou met onverantwoordelike beloftes steun werf. Dit gaan liederlik in sy gesig ontplof.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.