Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Stad Kaapstad se interregeringsgeskil oor polisiemagte stap in regte rigting

Die Stad Kaapstad se besluit om formeel ’n interregeringsgeskil te verklaar ten einde polisiëring- en ondersoekbevoegdhede na sy metropolisie af te wentel, is ʼn stap in die regte rigting om misdaad beter te bekamp.

Tydens verlede week se raadsvergadering oor die kwartaallikse verslag van die direktoraat vir veiligheid en sekuriteit, het die VF Plus beklemtoon dat ’n metro-speureenheid beperkte impak sal hê solank saakdossiere steeds aan die polisie oorhandig moet word.

Speurders by sommige van die stad se polisiekantore met die hoogste moordsyfers is reeds oorlaai en hanteer tussen 300 en 500 saakdossiere elk. Die aanbevole werklas is egter slegs 20 tot 30 ernstige saakdossiere per speurder.

Die metropolisie kan nie misdaad doeltreffend bekamp terwyl een hand agter sy rug vasgebind is nie.

Die VF Plus is van mening dat polisiëring- en ondersoekbevoegdhede na plaaslike regering gedelegeer behoort te word – die regeringsvlak wat die naaste aan gemeenskappe staan.

Ná die nasionale regering se volgehoue onvermoë om misdaad doeltreffend te bekamp, behoorlike ondersoeke te doen en suksesvolle vervolgings te verseker, is dit ’n logiese stap.

Die party hoop ook dat die direktoraat vir veiligheid en sekuriteit verdere wettige opsies sal ondersoek om private vervolgings te fasiliteer indien die interregeringsgeskil vertraag word.

Private vervolgings, soos voorsiening gemaak in artikels 7 tot 15 van die Strafproseswet, kan byvoorbeeld broodnodige verligting bied aan families wie se geliefdes op die Kaapse Vlakte vermoor is, maar wie se sake nie vorder nie weens swak speurwerk en onvolledige dossiere.

Hierdie probleme is veral ernstig in hoë-misdaadgebiede soos Delft, Kraaifontein, Nyanga en Mfuleni, waar buitensporige werksladings, onvolledige ondersoeke en intimidasie van getuies suksesvolle vervolgings ondermyn.

Baie saakdossiere wat aan die nasionale vervolgingsgesag (NGV) voorgelê word, word terugverwys na die polisie weens gebreke. Dit vertraag die regsproses en verminder die kans op skuldigbevindings.

Die VF Plus sal voortgaan om te pleit vir die oordrag van polisiëring- en ondersoekbevoegdhede.

Diegene wat verantwoordelik is vir die beskerming van gemeenskappe, moet die gesag en hulpbronne hê om misdaad doeltreffend te bekamp en misdadigers voor die gereg te bring.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.