Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus vra onafhanklike studies voordat enige besluit oor Jurischpark geneem word

Die VF Plus het met kommer kennis geneem van die voorneme van die Hessequa-munisipaliteit om Jurischpark by Riversdal te verkoop.

Die party doen ‘n beroep op die munisipaliteit om geen finale besluit oor die voorgestelde verkoop en kommersiële ontwikkeling van ’n gedeelte van Jurischpark te neem voordat alle betrokke onafhanklike omgewingsimpakstudies voltooi en die openbare deelnameproses behoorlik afgehandel is nie.

Hoewel ekonomiese ontwikkeling belangrik is, mag dit nie ten koste van ‘n waardevolle openbare bate geskied sonder dat die langtermyn-gevolge volledig ondersoek word nie.

Jurischpark is een van Riversdal se belangrikste openbare groenruimtes. Dit dien as ontspanningsarea, piekniekplek en erfenisterrein met ʼn Voortrekkermonument.

Die voorgestelde verkoop moet daarom met die grootste omsigtigheid hanteer word omdat die gevolge daarvan verreikend en blywend kan wees.

Die voorgestelde ontwikkeling hou ernstige risiko’s vir Riversdal en sy gemeenskap in. Dit kan lei tot verhoogde stormwater- en oorstromingsgevare, die permanente verlies van ’n waardevolle openbare groenruimte, asook ’n negatiewe impak op die dorp se toerisme- en erfeniswaarde.

Sulke gevolge sou nie net die natuurlike omgewing benadeel nie, maar ook die unieke karakter en aantrekkingskrag van die dorp ondermyn.

Verder kan die ontwikkeling bestaande ondernemings in die sakekern benadeel en selfs die verskuiwing van die Riversdal-rolbalklub noodsaak. Hierdie klub vervul ’n belangrike maatskaplike rol en dra by tot gemeenskapsamehorigheid.

Die verlies of verskuiwing daarvan sou ’n tasbare negatiewe invloed hê op die sosiale weefsel van die dorp.

Wanneer openbare grond vervreem word, is deursigtigheid, mededinging en die beste belang van belastingbetalers nie opsioneel nie. Die proses moet billik, deursigtig en ten volle openbaar wees.

Die VF Plus is van mening dat daar werkbare alternatiewe bestaan wat ekonomiese ontwikkeling kan bevorder sonder dat die munisipaliteit eienaarskap van die park prysgee. Dit sluit openbare-private vennootskappe, langtermynhuur, toerisme- en ontspanningsontwikkeling asook verbeterde bestuur, instandhouding en sekuriteit van die park in.

Die party doen daarom ’n beroep op die Hessequa-munisipale raad om te verseker dat onafhanklike hidrologiese-, stormwater-, verkeers-, ekonomiese, omgewings- en erfenisstudies eers voltooi word voordat enige besluit oor die verkoop van die grond geneem word.

Die toekoms van Jurischpark moet bepaal word deur die langtermyn openbare belang – nie net deur korttermyn ekonomiese oorwegings nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.