Dit is belangrik dat geskiedkundige erfenisgebiede in die noordelike deel van Bloemfontein, ongeskonde moet bly en beskerm moet word tydens die nuwe voorgestelde ontwikkelingsprojek.
Die VF Plus het hierdie vereiste tydens ʼn raadsvergadering van die Mangaung-metro aan die raad gerig.
Die voorgestelde projek gaan op die grond agter die Bybelhuis ontwikkel word waar die Dam van Trane en die Bron van Herinnering geleë is, bakens wat verband hou met die Bloemfontein-konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog.
Die ontwikkeling maak onder meer voorsiening vir ’n hotel, hospitaalgeriewe, kantore, kleinhandelontwikkeling en residensiële ontwikkeling.
Die VF Plus verwelkom die potensiaal wat hierdie projek inhou vir beleggings en werkskepping en kan geweldige ekonomiese voordele vir Mangaung en die plaaslike ekonomie inhou, maar hierdie groei moet hand aan hand gaan met die beskerming van die stad se unieke geskiedenis en herinneringsplekke.
Hierdie plekke is nie bloot historiese bakens nie. Dit is plekke van herinnering, rou en respek vir duisende vroue en kinders wat onder moeilike omstandighede gely en gesterf het.
Die Dam van Trane het sy naam gekry omdat vroue hul klere daar gewas het terwyl hulle letterlik oor die verlies van geliefdes gehuil het.
Indien die erfenisterreine behoorlik bewaar en ontwikkel word, kan dit saam met ander historiese bestemmings, soos die Anglo-Boereoorlog-Museum, bydra tot die toerismepotensiaal vir Mangaung.
Die VF Plus ondersteun die voorgestelde ontwikkeling, maar met die voorwaarde dat ‘n aanbeveling bygevoeg word.
Dit is dat die konstruksie van die voorgestelde pad en alle verwante infrastruktuur nie enige historiese of erfenisgebied, insluitend die Dam van Trane en die Bron van Herinnering, mag vernietig, beskadig of negatief beïnvloed nie, en dat alle nodige erfenisbeskermingsmaatreëls voor en tydens konstruksie toegepas moet word.
Nuwe ontwikkeling kan plaasvind sonder om die geskiedenis van Bloemfontein op te offer. Mangaung se toekoms moet gebou word met respek vir sy verlede.


