Die VF Plus het vandag tydens ’n raadsvergadering van die Mangaung-metro teen die voorgestelde instelling van ’n nuwe artikel 79-komitee, die sogenaamde “voorsitter van voorsitters”-komitee, gestem.
Die VF Plus steun strenger toesig, maar die voorgestelde struktuur is niks anders nie as ’n duplisering van funksies wat reeds binne die speaker en die stadsbestuurder se kantore bestaan.
Indien bestaande komiteevoorsitters hul werk behoorlik verrig, behoort daar geen behoefte aan ’n bykomende politieke toesighouer te wees nie. Die instelling van hierdie struktuur is ’n erkenning dat die ANC se bestaande strukture nie behoorlik funksioneer nie.
Mangaung se inwoners ervaar reeds ernstige diensleweringsprobleme, insluitend vervalle infrastruktuur, wateronderbrekings en stygende tariewe, terwyl die metro se finansiële posisie onder geweldige druk verkeer.
Die VF Plus het daarom versoek dat ’n volledige finansiële verslag aan die raad voorgelê word wat die totale koste van die nuwe struktuur uiteensit, insluitend die vergoeding van die voorsitter van voorsitters, ondersteunende personeel, kantoorruimte, toerusting en ander bedryfskoste.
Die VF Plus het daarop gewys dat soortgelyke strukture in ʼn metro soos Tshwane geen meetbare verbeterings in dienslewering of oudit-uitkomste gelewer het nie, en versoek dat Mangaung konkrete bewyse of navorsing aan die raad voorlê dat die voorgestelde model vir dienslewering of operasionele kapasiteit tot voordeel sal wees.
Mangaung het nie ’n tekort aan strukture nie, maar ’n tekort aan aanspreeklikheid en doeltreffende uitvoering binne die bestaande strukture. Jare van ANC-kaderontplooiing en politieke aanstellings het daartoe gelei dat lojaliteit te dikwels bo bevoegdheid en ervaring gestel word.
Die VF Plus glo dat munisipale strukture doeltreffend funksioneer wanneer bevoegde mense op grond van meriete aangestel en verantwoordbaar gehou word vir hul prestasie.
Mangaung benodig nie nog administrasie nie. Mangaung benodig beter bestuur. Elke beskikbare rand behoort aangewend te word om dienslewering te verbeter, infrastruktuur te herstel en inwoners se lewensomstandighede te verbeter.
Op 4 November het kiesers die kans om met hul stem vir die VF Plus ’n duidelike boodskap te stuur dat elke rand in dienslewering en die herstel van infrastruktuur belê moet word, eerder as om vermors te word op nóg ’n laag administrasie.


