Die VF Plus het vandag die Ekurhuleni-metroraad se voorgestelde implementering van die sogenaamde Metro Trading Services Reform-plan gesteun.
Die plan sit voorstelle uiteen om sterker bestuur, duidelike aanspreeklikheid en behoorlike prestasiemonitering by die stad se energie-, water- en sanitasiediens daar te stel.
Die nasionale tesourie het die inisiatief van stapel gestuur om geld vir infrastruktuurinstandhouding aan die land se metrorade beskikbaar te stel, op voorwaarde dat daar deurgaans streng verslagdoening plaasvind oor die besteding van dié geld.
Volgens die nasionale energiereguleerder, Nersa, staan Ekurhuleni se kragverliese tans op 15.54%
Daar is tans onduidelikheid oor wanneer Ekurhuleni se optrede teen kragverliese in werking moet tree en wat die prestasiemaatstaf gaan wees.
As deel van die voorwaardes waaronder die VF Plus by ‘n vorige geleentheid die 2026/27-begroting gesteun het, is ’n verbintenis verkry dat ’n befondsde plan vir die vermindering van kragverliese en inkomste-beskerming teen die einde van Augustus 2026 aan die raad voorgelê sal word.
Volgens ‘n ander maatstaf, die jongste energie- sake- en beleggingsplan, is daar teenstrydige kragverliesteikens van onderskeidelik 15.91% en 14% vir die betrokke finansiële jaar, terwyl die gewysigde geïntegreerde ontwikkelingsplan ’n 18%-doelwit daarstel.
Die raad kan nie die administrasie aanspreeklik hou wanneer daar verskillende teikens in dokumente voorkom as deel van dieselfde goedkeuringsproses nie.
Die VF Plus is ook bekommerd daaroor dat die formele begrotingsondersteuning vir die sake- en beleggingsplan eers vanaf die 2027/28-boekjaar aangedui word, wat kan beteken dat dringende verliesverminderingsmaatreëls uitgestel word.
Inwoners kan nie nog ’n jaar vir optrede wag nie en die VF Plus sal daarop aandring dat die metro sy Augustus-verbintenis nakom.
Op 4 November sal inwoners tydens die plaaslike regeringsverkiesing vir die VF Plus kan stem om daadwerklike en meetbare optrede met duidelike sperdatums daar te stel.


