Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis optrede oor haglike toestand van Alma-paaie

Die argeloosheid aangaande die haglike toestand van paaie om Alma kan nie so voortduur nie en dringende optrede is nodig om dit reg te stel.

Die VF Plus het vandag ‘n skrywe hieroor gerig aan Limpopo se LUR vir openbare werke, paaie en infrastruktuur, mnr. Sebataolo Rachoene, om duidelikheid te kry oor die gebrek aan sigbare vordering met die instandhouding van paaie in dié omgewing.

Hoewel die departement in Maart vanjaar skriftelik aangedui het dat werk aan die D975-, D2748- en D1082-paaie in die Modimolle/Mookgophong-plaaslike munisipaliteit reeds begin het of eersdaags sou afskop, sê plaaslike inwoners en boere daar is nog min teken van enige verbetering.

Die party het ook op 19 Mei ’n gemeenskapsvergadering by die Alma-padkamp bygewoon wat plaaslike boere gereël het om ’n samewerkingsooreenkoms tussen inwoners en die distriksdepartement van vervoer te bewerkstellig.

Daar is toe ooreengekom om meer gereeld met gemeenskapsverteenwoordigers te vergader sodat die belangrikste paaie geprioritiseer kan word.

Hierdie paaie is van kritieke belang vir landboubedrywighede, skoolvervoer, noodvoertuie en die plaaslike ekonomie.

Die huidige toestand van die paaie hou nie net ‘n veiligheidsrisiko in nie, maar benadeel ook die daaglikse lewe van inwoners.

Die VF Plus het daarom die departement versoek om binne sewe werksdae terugvoer te gee oor:

• Die vordering met die D975
• Die status en tydraamwerk vir die D2748
• Regstellende optrede op die D1082, insluitend brandgevare wat agtergelate bome en rommel veroorsaak
• Die inspeksieverslag van die betrokke tegniese span
• Die beplande werksprogram vanaf 1 Julie 2026 en
• datums vir ‘n opvolgvergadering in Alma.

Die gemeenskap van Alma het reeds lank genoeg geduldig gewag. Nou is dit tyd vir duidelike antwoorde, aanspreeklikheid en sigbare optrede.

Die VF Plus gaan voort om druk toe te pas om te seker te maak dat Alma se inwoners veilige en behoorlike paaie kry waarop hulle geregtig is.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.