Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Hantam: LUR deel nuwe titelaktes uit – agterstallige behuisingsbeloftes mag nie vergeet word

Verskeie gemeenskapslede van Loeriesfontein het gister die titelaktes vir hul huise van die Noord-Kaap se LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta), mnr. Bentley Vass, ontvang.

Dit volg nadat begunstigdes in Calvinia vroeër vanjaar ook nuwe huise ontvang het.

Wat hierdie vreugde egter oorskadu, is historiese agterstande en onvervulde beloftes in beide Calvinia en Loeriesfontein. Terwyl die VF Plus enige inisiatief verwelkom wat inwoners se eiendomsreg bevorder, moet gemeenskapslede wat jare reeds op waglyste is sonder om behuising te ontvang, voorkeur kry.

Die VF Plus is veral bekommerd oor die lot van talle bejaarde inwoners wat die gebied oor dekades help ontwikkel het deur belasting en diensgelde te betaal en hul gesinne groot te maak – en steeds nie hul eie huise besit nie. In hul laaste lewensjare wag hulle steeds op beloftes wat jare gelede gemaak is.

Die VF Plus dring daarop aan dat elke naam wat op ’n historiese waglys verskyn, elke aansoek wat ingedien is en elke belofte wat gemaak is, steeds erken en nagekom moet word.

Die gemeenskap verwag regverdigheid en dat diegene wat die langste wag, nie agterweë bly nie.

Die VF Plus doen daarom ’n beroep op Coghsta om dringend rekenskap te gee van:

  • Die status van alle historiese behuisings- en erfwaglyste
  • Die huidige volgorde van toekennings
  • Die redes waarom talle aansoekers steeds wag ondanks jarelange registrasie
  • Die maatreëls wat ingestel word om historiese agterstande uit te wis.

Daar is ’n toenemende gevoel onder gemeenskapslede dat politieke oorwegings soms belangriker geag word as die werklike behoeftes van inwoners. Behuising- en grondtoekennings behoort nie deur politiek bepaal te word nie, maar deur billikheid, behoefte, deursigtigheid en die volgorde waarin mense wettig geregistreer is.

Die VF Plus sal voortgaan om namens die inwoners van Hantam op te tree en sal aandring dat die beloftes van die verlede nagekom word.

Ons skuld dit veral aan bejaardes en gesinne wat jaar ná jaar geduldig wag vir die geleenthede wat hulle belowe is.

Gemeenskappe het nie korttermyn-politieke gebare nodig nie; hulle het oplossings nodig wat regverdig is en wat erkenning gee aan die mense wat al die langste wag.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.