Die VF Plus-jeug glo nie in oppervlakkige vieringe ter wille van politieke simboliek nie.
Die jongmense van vandag is nie apaties nie. Ons is een van die mees uitgesproke en betrokke generasies nog. Ons is nie bang om op sosiale media te praat nie.
Ons gee om oor ons gemeenskappe. Ons gee om oor veiligheid, werksgeleenthede, dienslewering en die toekoms van Suid-Afrika. Ons verwag beter van ons leiers en ons is bereid om hulle aanspreeklik te hou.
Daarom behoort Jeugdag 2026 meer te wees as ’n herdenking van die verlede. Dit moet ’n dag wees waarop jongmense verantwoordelikheid vir hul eie toekoms neem en besluit om op 4 November hul stem daarvoor te gebruik.
Maar tog, wanneer dit by die stembus kom, bly te veel van ons weg.
As ons sterk genoeg is om ons stem elke dag aanlyn te laat hoor, moet ons ook bereid wees om dit op verkiesingsdag te gebruik.
Miljoene jongmense sit sonder werk. Te veel skole sukkel met vervalle infrastruktuur en swak onderwysuitkomste. Jongmense word daagliks gekonfronteer met die gevolge van die ANC se mislukte beleide soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie – beleide wat geleenthede beperk en ekonomiese groei kniehalter.
Die waarheid is dat baie van die sake waarvoor jongmense die hardste veg – beter skole, moedertaal-onderrig, werksgeleenthede, veiliger gemeenskappe, ekonomiese groei, skoon omgewings en verantwoordbare leierskap, eindelik deur politieke besluite beïnvloed word.
Daarom kan ons nie bekostig om ons van die politieke proses te vervreem nie. Wanneer ons wegbly van die stembus, laat ons ander mense toe om namens ons oor hierdie sake te besluit.
Dis ons tyd om verantwoordelikheid vir ons toekoms te neem.
Dis ons tyd om deel te wees van die oplossing.
Dis ons tyd om te registreer. Dis ons tyd om op 4 November vir werklike verandering te stem.


