Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Nelson Mandelabaai gly dieper in administratiewe en finansiële chaos

Dit blyk duidelik uit die jongste bevindings van die Oos-Kaapse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Zolile Williams, en die nasionale adjunkminister, dr. Dickson Masemola, dat die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) se administrasie en finansiële bestuur in ‘n ernstige vryval is.

Onreëlmatige uitgawes het binne slegs twee jaar van sowat R21 miljard tot R31 miljard toegeneem. ʼn Toename wat ʼn direkte aanklag is teen die metro se leierskap en finansiële kontroles.

Meer as 100 prioriteitsaksies wat die artikel 154-ingrypingspan geïdentifiseer het, word steeds nie uitgevoer nie weens interne weerstand in die onderskeie departemente.

Die langdurige skorsing van die stadsbestuurder, dr. Noxolo Nqwazi, het reeds meer as R6,7 miljoen aan belastinggeld gekos en dra by tot verdere administratiewe onstabiliteit.

Hierdie patroon van swak bestuur, gebrek aan aanspreeklikheid en politieke inmenging veroorsaak dat inwoners jaarliks hoër tariewe betaal terwyl dienslewering en infrastruktuur steeds agteruitgaan.

Die NMBM het ʼn dringende behoefte aan beslissende en stabiele leierskap, asook ’n permanente, bekwame rekeningkundige beampte. Die volle implementering van die artikel 154-aanbevelings is noodsaaklik, tesame met streng gevolgebestuur waar amptenare wat verantwoordelik is vir onreëlmatige uitgawes en wanbestuur, persoonlik aanspreeklik gehou word.

Sonder hierdie fundamentele stappe sal daar geen werklike verbetering in die munisipaliteit se administrasie en dienslewering wees nie.

Die inwoners van die NMBM kan nie langer die prys betaal vir ’n administrasie wat hul vertroue versaak nie.

Die keuse op 4 November is ’n keuse tussen voortgesette chaos of ’n pad van aanspreeklikheid, stabiliteit en herstel.

Elke stem vir die VF Plus is ’n stem teen vermorsing en wanbestuur en ’n stem vir ’n metro wat werklik werk vir sy mense.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.