Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Drakenstein-begroting spreek nie inwoners se werklike behoeftes aan

Die VF Plus het nie die Drakenstein-plaaslike munisipaliteit se begroting vir die 2026/27-boekjaar gesteun nie, omdat die geld eenvoudig nie aangewend word vir inwoners se werklike behoeftes nie.

Ten spyte van ’n totale begroting van R4,5 miljard (waarvan R3,9 miljard vir operasionele uitgawes en slegs R569 miljoen vir kapitaalprojekte gaan), word belangrike dienste afgeskeep terwyl fondse aan verkeerde prioriteite bestee word.

Byna geen fondse is beskikbaar vir die dringende vervanging van ou water- en stormwaterpype nie. Slegs R6 miljoen is vir rioollynverbetering begroot en R6 miljoen vir stormwaterherstel – bedrae wat totaal onvoldoende is vir ’n munisipaliteit van hierdie grootte. Net so is slegs R18,3 miljoen vir die seël van paaie begroot, terwyl die paaie in ’n haglike toestand is.

Die VF Plus waarsku reeds meer as vyf jaar dat die munisipaliteit te veel nuwe residensiële ontwikkelings toelaat sonder om die bestaande infrastruktuur op te gradeer. Die ou pype en paaie kan eenvoudig nie die toenemende druk van meer inwoners en verkeer hanteer nie.

Pype breek daagliks en word slegs tydelik reggemaak, maar die probleem keer kort daarna terug. Paaie is in ’n haglike toestand en word net oppervlakkig opgevul, wat hoogstens ’n paar weke hou. Die begroting maak bykans geen voorsiening vir werklike padherstelwerk nie.

Die munisipaliteit spog dat nuwe ontwikkelings groot finansiële voordele sal inbring, maar die VF Plus sien nog geen bewys daarvan nie. In stede daarvan word belastingbetalers swaarder belas terwyl tariewe verder verhoog word.

Belastingbetalers wat getrou betaal, ontvang geen verligting nie, terwyl die deernistoelaag bo die normale vlak verhoog word en skuld maklik afgeskryf word sonder behoorlike invorderingpogings.

Daar bestaan ’n groot skuldlas (lenings) wat eers in 2035 terugbetaal moet word. Ten spyte van herhaalde versoeke kon die VF Plus nog nie die presiese leningsbedrag kry nie. Hierdie gebrek aan deursigtigheid is onaanvaarbaar.

Die DA-beheerde munisipaliteit beweer graag dat Drakenstein een van die bes bestuurde munisipaliteite in die provinsie is. Tog is daar geen duidelike plan om die sakekern te red nie. Winkels verloor kliënte weens mense wat op straat slaap en inwoners pla. Daar is te min wetstoepassings- en verkeersbeamptes om ’n werklike verskil te maak.

Baie geboue word aan buitelanders verhuur wat min bydra tot ’n skoon en veilige omgewing. Intussen groei informele nedersettings vinnig weens ongekontroleerde migrasie, sonder enige sigbare poging van plaaslike of provinsiale regering om dit te bestuur.

Die VF Plus het ook teen die wyksfondstoedelings gestem omdat die proses ondeursigtig en politiek-gemotiveerd is. Een derde (R1,8 miljoen) van die totale beskikbare fondse (R7,9 miljoen) gaan na net een nie-regeringsorganisasie (NGO), terwyl baie ander organisasies wag. Daar is ook verskeie “spook-toedelings” waar geen organisasienaam genoem word nie.

Geen behoorlike behoeftebepaling per wyk is gedoen nie. Dit lyk eerder na ’n “eet-en-drink-partytjie” as na volhoubare projekte wat inwoners se lewe werklik verbeter.

Die VF Plus kan nie ’n begroting steun wat nie die regte prioriteite aanspreek nie. Belastingbetalers verdien deursigtige bestuur, daadwerklike instandhouding van infrastruktuur en ’n veilige, skoon omgewing.

Inwoners het op 4 November die geleentheid om vir die VF Plus te stem om op te staan vir hul behoeftes en belange in die Drakenstein-raad.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.