(Begrotingsposdebat: Presidensie)
President Cyril Ramaphosa moet die Phala Phala-aangeleentheid vinnig en eerlik hanteer en afhandel sodat daar aan beweeg kan word na dít wat in alle landsburgers se belang prioriteit moet geniet: Die behoorlike regering van Suid-Afrika.
Wanneer dit gebeur, moet veral Suid-Afrika se beleid oor buitelandse betrekkinge dringend aandag geniet.
Die maatreëls en riglyne vir meer doeltreffende koördinering van internasionale skakeling is in 2009 goedgekeur en die tyd het aangebreek vir ‘n algehele hersiening en opknapping van dié beleid. Dit moet gedoen word. Die wêreld en die internasionale klimaat het sedert 2009 baie verander.
Suid-Afrika sal sekere aspekte van sy VSA-beleid moet herbedink. Die VSA bly die grootste ekonomie met die sterkste weermag ter wêreld en Suid-Afrika kan hom nie op ‘n vyandige wyse behandel nie.
Dit is wel positief dat albei lande nou op ambassadeursvlak verteenwoordig word en dit is ‘n goeie vertrekpunt om die verhouding met Washington te verbeter wat net tot Suid-Afrika se voordeel kan wees.
Suid-Afrika moet bereid wees om sekere billike toegewings te maak. Laat ons die uitstaande sake wat in die pad van so ‘n ooreenkoms staan – die vyf kritieke voorwaardes van die VSA – aanspreek.
Die voordele wat hieruit kan spruit, kan só ingrypend en positief wees dat dit die huidige druk op die presidensie in ‘n gees van optimisme en verwagtinge vir miljoene Suid-Afrikaners sal laat vervaag.
Die kern van ’n nuwe ooreenkoms behoort ’n pakt oor kritieke minerale te wees. Suid-Afrika kan strategiese toegang bied tot die eksplorasie, mynbou, en veral die suiwering van platinumgroepmetale, mangaan, vanadium, seldsame aardelemente en titanium.
Die VSA kan dit ewenaar met amptelike langtermyn-ooreenkomste, geteikende reserwebou-programme, en finansiering vir verwerkingskapasiteit tot in die finale fase.
‘n Johannesburg-gebaseerde kritiese minerale-beurs gekoppel aan Amerikaanse markte kan voorsieningskettings ontsluit en Suid-Afrika as ‘n globale verwerkings- en handelskern posisioneer.
Hierdie vennootskap sal ekonomiese geleenthede ontsluit en vir die VSA veilige, strategiese grondstowwe verseker.
Die strategiese voordele sal onmiddellik wees: Die VSA verseker hiermee betroubare voorrade vir die vervaardiging van elektriese voertuie, vliegtuie en gevorderde nywerhede, terwyl Suid-Afrika homself posisioneer as ’n globale verwerkings- en handelskern – in stede van bloot die eindpunt van ’n ander land se waardeketting.
‘n Nuwe VSA/SA/Midde-Ooste-spilpunt vir mynboutegnologie, naspeurbare voorsieningskettings en KI-monitering sal aansienlike beleggings lok van Amerikaanse private-ekwiteitsfirmas en soewereine welvaartfondse uit die Golfstate.
Hierdie minerale-ooreenkoms kan Suid-Afrika se BBP met $40 miljard verhoog en sowat 500 000 werksgeleenthede skep regdeur die mynbou-, verwerkings-, energie-, logistieke en dienstesektore.
Dit sal ekonomiese groei tot 5% per jaar dryf en werkloosheid mettertyd halveer. Vir die VSA kan direkte winste uit minerale, gasuitvoere en landbou $75 miljard oorskry, wat die verlaging van Suid-Afrika se algemene tariewe na 10% regverdig en handelsvoorregte onder Agoa beveilig.
Die deur na die Withuis staan oop en die tyd is nou reg om ‘n waterskeidings-ooreenkoms met die Trump-administrasie te sluit wat ongekende voorspoed vir Suid-Afrika en sy mense sal bring. Die alternatief is verdere agteruitgang.
Die VF Plus is bereid om elke tree van hierdie pad met die regering te stap. Dit kán gedoen word!


