Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Johannesburg-metro sink dieper in finansiële moeras

Die VF Plus kon nie die Johannesburgse metro se voorgestelde 2026/27-begroting steun nie, aangesien dit nie die metro se kritieke finansiële krisis aanspreek nie en dit dieper in ’n finansiële moeras laat wegsink.

Die begroting is gelewer teen die agtergrond van ‘n ernstige finansiële verknorsing: Voortgesette dispute met Eskom, ’n waarskuwingsbrief van die minister van finansies oor die metro se finansiële noodtoestand en die JSE wat die verhandeling van Johannesburg se skuldinstrumente opgeskort het.

Ten spyte hiervan maak die begroting van R97 miljard staat op ’n skrale surplus van net meer as R2 miljard – ’n bedrag wat heeltemal ontoereikend is om die metro se enorme skuldverpligtinge, agterstallige krediteure en infrastruktuur-agterstande van meer as R220 miljard aan te pak. Die kapitaalbegroting is slegs R8,7 miljard.

Die begroting voorspel verdere agteruitgang met die kapitaaltoekenning aan die Johannesburg Padagentskap wat met 37,7% gesny is tot ’n skrale R570 miljoen, terwyl die toekenning aan City Power met 114% verhoog is tot R2,353 miljard. Dit sal grotendeels gefinansier word deur ’n nuwe Duitse banklening.

Terselfdertyd word inwoners gekonfronteer met ’n verhoging van 11% in sanitasietariewe, die hoogste in die land, terwyl die metro se ses rioolwerke in ’n haglike toestand verkeer en sowat 90 miljoen liter rou riool daagliks in Johannesburg se riviere beland.

Dié begroting bied nie ’n pad na herstel nie, maar eerder ’n resep vir verdere verval. Dit getuig van ’n gebrek aan politieke wil om die metro se finansies te stabiliseer, korrupsie te bekamp en basiese dienslewering te herstel.

Die tyd raak werklik min om Johannesburg van algehele ondergang te red.

4 November 2026 bied aan inwoners die geleentheid om ‘n daadwerklike verandering teweeg te bring deur vir die VF Plus te stem om verantwoordelike bestuur daar te stel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.