Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus spaar Mangaung-ondernemings duisende in stortingsterrein-stryd

Die VF Plus het ’n groot oorwinning vir Mangaung se sakegemeenskap en inwoners behaal deur buitensporige stortingsterrein-heffings af te weer wat ondernemings duisende rande sou kos.

Die metro se oorspronklike 2026/27-begroting het voorsien dat sekere ondernemings tussen R130 000 en R330 000 per maand aan stortingstariewe sou betaal – ’n onvolhoubare las vir kleinsake-eienaars. Kontrakteurs sou boonop tussen R150 en R700 per vrag vir algemene afval en tot R1 000 per vrag vir bourommel moes opdok.

Hoewel tariewe nodig is vir instandhouding en rehabilitasie van stortingsterreine, kan inwoners en ondernemings nie gedwing word om nóg meer te betaal terwyl die metro self versuim om infrastruktuur, weegbrûe en terreine te onderhou nie.

Na volgehoue druk, openbare insette, formele besware en met hulp van die VF Plus is ‘n meer billike model beding

Eenmalige vragte van meer as 500 kg is drasties verlaag, en inwoners of nie-geregistreerde gebruikers betaal nou slegs R30 in stede van R150 per vrag.

Vir kontrakteurs is bekostigbare maandelikse voertuigfooie ingestel wat die vorige per-vrag heffings vervang: bakkies betaal R250, bakkies met sleepwaens R450, bakkies met “skips” en vragmotors tot vier ton R650, en groter vragmotors R850 per maand.

Verder is ’n gefasseerde implementeringsplan oor vyf jaar ingestel om ondernemings kans te gee om aan te pas, met ’n 75%-afslag in die tweede jaar (2027/28). ’n Eenmalige registrasiefooi van R400 bied kontrakteurs toegang tot die laer tariewe en bevorder verantwoordelike afvalbestuur.

Hierdie oorwinning bring verligting vir ondernemings én inwoners wat uiteindelik die prys betaal wanneer ondernemings onder onvolhoubare kostes gebuk gaan.

Die VF Plus staan vir billike tariewe en volhoubare finansiële bestuur. Mangaung se inwoners verdien werklike dienslewering, nie nóg heffings op vervallende infrastruktuur nie.

Op 4 November 2026 kan kiesers die VF Plus steun vir werklike verbetering in Mangaung.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.