Die Lesedi-plaaslike munisipaliteit (Heidelberg, Devon en Vischkuil) se onvermoë om ’n halfvoltooide burgemeesterswoning te voltooi, het daartoe gelei dat dié eiendom onlangs teen ’n enorme verlies op ’n veiling verkoop is vir slegs R360 000.
In 2017 het die munisipaliteit besluit om ’n nuwe burgemeesterswoning in Bergsig, Heidelberg, vir ’n beplande bedrag van R3,5 miljoen te bou. Die projek is in fases aangepak weens ʼn geldtekort.
Vir die eerste fase is R1,5 miljoen begroot, maar dié bedrag is met R400 000 oorskry net met die voltooiing van die steenwerk, ruite, dak, plafon en ʼn gedeelte van die omheining.
Ten spyte van dié aansienlike uitgawe kon die huis nie voltooi word nie weens ’n gebrek aan fondse. Die onvoltooide struktuur is intussen erg gevandaliseer en het selfs onwettige inwoners gehuisves.
’n Poging in 2018 om die eiendom vir R850 000 te verkoop, het misluk omdat die ontwikkelaar nie oor ’n geldige sertifikaat van die Nasionale Raad vir die Registrasie van Huisbouers (NHBRC) beskik het nie.
Onlangs is die huis uiteindelik op ’n veiling verkoop vir slegs R360 000 – ’n verpletterende verlies vir die munisipaliteit en belastingbetalers.
Hierdie fiasko is ’n duidelike voorbeeld van die ANC-beheerde munisipaliteit se swak beplanning, finansiële onvermoë en vermorsing van openbare geld.
Die VF Plus moedig alle kiesers aan om betyds te registreer sodat hulle op 4 November 2026 vir die VF Plus kan stem vir ʼn verantwoordbare bestuur en ’n einde aan sulke vermorsing. Dis ons tyd!


