Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Jarelange ANC-wanbestuur lei tot water en sanitasie-krisis in die Kenneth Kaunda-distrik

‘n Verslag van die departement van water en sanitasie (DWS) wat vandag voor die Kenneth Kaunda-distriksmunisipaliteit se raad gelê is, het die skokkende gevolge van jarelange ANC-wanbestuur opnuut belig.

Die verslag volg op ‘n oorsigbesoek wat die adjunkminister van water en sanitasie, Sello Seitlholo, in Maart aan die gebied gebring het.

Meer as 6 000 huishoudings het steeds nie toegang tot lopende water nie en 37 water-en sanitasieprojekte is ná jare nog nie voltooi nie. Die grootskaalse besoedeling van riviere en grondwater weens die verval van riool-infrastruktuur gaan ook onverpoosd voort.

Die erge besoedeling van die Mooirivier weens die openlike storting van onverwerkte riool in die rivier hou ‘n ernstige bedreiging vir die plaaslike landbousektor in. Dit hou ook gesondheidsgevare in vir die inwoners van Potchefstroom met die rivier wat regdeur die dorp vloei.

Dit het aan die lig gekom dat bykans R3 miljard benodig word vir die broodnodige herstel van water- en sanitasie-infrastruktuur in Kenneth Kaunda. Die onderskeie toelaes wat die munisipaliteit van die nasionale regering ontvang, dek nie die herstel en onderhoud van infrastruktuur nie.

Dit is duidelik dat daar oor ‘n lang tyd geen behoorlike beplanning gedoen is om te verseker dat bestaande infrastruktuur beskerm en onderhou word nie.

Dit is ‘n skande dat die inwoners van Klerksdorp, Maquassi, Potchefstroom en Ventersdorp moet ly weens die wanbestuur en onbevoegdheid van die ANC in dié munisipaliteit.

Hierdie stand van sake beklemtoon die noodsaak dat kiesers in die komende plaaslike verkiesing met hul stemme verseker dat die ANC uit plaaslike regering verwyder word.

Die VF Plus sal voortgaan om ANC-wanbestuur uit te wys en te stry vir doeltreffende dienslewering wat ‘n menswaardige leefomgewing vir die inwoners van die Kenneth Kaunda-distrik sal herstel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.