Die verval van die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) se brandstofvoorsieningskontrak op 30 April, sonder dat ’n nuwe diensverskaffer betyds aangestel is, is die direkte gevolg van die ANC-koalisieregering se gebrek aan beplanning en administratiewe dissipline.
Hierdie nalatigheid het die metro lam gelaat en het reeds diensonderbrekings veroorsaak.
Munisipale voertuie kan nie brandstof kry nie, wat daaglikse dienslewering en noodreaksie direk in gedrang bring.
Die debakel is nie ‘n geïsoleerde voorval nie, maar ’n simptoom van sistemiese wanbestuur onder die ANC-koalisieregering.
’n Kritieke kontrak mag eenvoudig nie verval sonder dat daar vooruit beplan is nie.
Die gebruik van noodmaatreëls en afwykingsprosesse in hierdie laat stadium beklemtoon dat die metro reaktief eerder as proaktief optree.
Die gevolge is ernstig. Met die Suid-Afrikaanse Weerdiens se waarskuwing van swaar reën, sterk winde en moontlike oorstromings, is dit van kardinale belang dat alle nood- en rampbestuursdienste ten volle operasioneel is. Die onsekerheid oor brandstofvoorsiening plaas die veiligheid van inwoners, veral dié in kwesbare en in vloedgeteisterde gebiede in gevaar.
Basiese administratiewe prosesse, soos kontrakbestuur, is voorspelbaar en moes maande vooruit bestuur gewees het.
Die gebrek aan interne kontroles en verantwoordbaarheid het die metro onvoorbereid gelaat op ’n tydstip wanneer beplanning en betroubare dienslewering van lewensbelang is.
Daar is dringend ’n behoefte aan ’n gesentraliseerde kontrakbestuurstelsel, met duidelike tydlyne, monitering en aanspreeklikheid. Kritieke kontrakte moet lank voor hul vervaldatums hersien en hernu word om diensonderbrekings te voorkom en om te verseker dat noodsaaklike dienste, soos brandstof vir noodvoertuie, nooit in gedrang kom nie.
Dié aangeleentheid wys dat die ANC-koalisieregering se wanbestuur nie net administratiewe foute veroorsaak nie, maar die veiligheid en welstand van inwoners direk bedreig.
Inwoners moet registreer en op 4 November vir die VF Plus stem vir beter dienslewering.


