Administratiewe laksheid en growwe wanbestuur binne die Tshwane-metro onder leiding van ActionSA/ANC/EFF-koalisie, kniehalter die ontwikkeling van Booysens Uitbreiding 4 en stel belastingbetalers bloot aan groot finansiële risiko’s.
’n Onlangse verslag van die metro se oorsigkomitee vir menslike nedersettings skets ’n ontstellende prentjie van herhaalde oortredings van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA), swak projekbestuur en ’n totale gebrek aan interne kontroles.
Kontrakteurs word nie maandeliks geëvalueer nie, dokumentasie en ontwerpe kry eers aandag nadat krisisse onstaan en swak voorsieningskanaal-prosesse lei tot boetes, kostestygings en vrugtelose uitgawes.
Die werklike bottelnek lê nie by die kontrakteurs nie, maar binne die munisipale administrasie self. Grondstortings en onwettige strukture vererger die situasie omdat die terrein net gedeeltelik voorberei is en nou verlate staan. Dit is ’n direkte gevolg van swak wetstoepassing en gebrekkige koördinering tussen departemente.
Die VF Plus het ‘n skriftelike versoek aan die komitee gerig waarin daar gevra is vir ‘n opvolgverslag sodat die vordering bespreek kan word.
Daarin word onder meer die volgende geëis:
• ’n Volledige onafhanklike ondersoek na die interne administratiewe vertragings
• Volledige openbaarmaking van alle koste-eskalerings en variasiebestellings
• ’n Dringende hersiening van die voorsieningskanaal-tydlyne
• Gereelde kwartaallikse terugvoer aan die raad
Die inwoners van Booysens verdien ’n projek wat professioneel, deursigtig en finansieel gesond bestuur word – nie ’n administrasie wat deur sy eie laksheid die ontwikkeling kniehalter nie.
Inwoners moet registreer en op 4 November vir die VF Plus stem vir beter en volhoubare dienslewering.


