Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Emalahleni moet duidelikheid verskaf oor voortslepende waterkrisis in Ogies

Die voortslepende waterkrisis in Ogies het ’n kritieke punt bereik en die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit (Kriel, Ogies, Phola, eMalahleni) kan nie langer wegkom sonder duidelike antwoorde nie.

Ten spyte van talle klagtes en pleidooie van inwoners, versleg die situasie daagliks en baie huishoudings sit sonder hul grondwetlike reg op skoon, betroubare water.

Videobewyse wat as deel van ’n formele klag by die munisipale bestuurder, mnr. Sizwe Mayisela, ingedien is, toon jarelange verwaarlosing, verval van infrastruktuur en ’n gebrek aan behoorlike instandhouding van die verspreidingsnetwerk.

Die krisis spruit voort uit drie kernprobleme:

Infrastruktuur wat weens herhaalde tegniese mislukkings in duie stort en nie meer met tydelike lapwerk opgelos kan word nie, ’n munisipaliteit wat misluk in sy basiese mandaat om diens te lewer en ’n volgehoue gebrek aan langtermynoplossings wat inwoners met korttermyn-maatreëls afskeep.

Daarby heers daar groot verwarring in die gemeenskap oor wie werklik vir watertoevoer en instandhouding verantwoordelik is.

Die VF Plus eis dat die munisipaliteit dringend duidelikheid verskaf oor wie tans die watertoevoer en infrastruktuur beheer, of die volle verantwoordelikheid by die Emalahleni-munisipaliteit berus, of daar ’n diensooreenkoms met Seriti of enige ander eksterne party bestaan en watter stappe geneem word om die infrastruktuur dringend te herstel.

’n Tegniese oudit van die Ogies-waterinfrastruktuur, ’n duidelike tydlyn vir herstelwerk en ’n amptelike verklaring wat die rolle en aanspreeklikheid van die munisipaliteit en enige eksterne rolspelers soos Seriti uitspel, is noodsaaklik.

Die VF Plus sal die situasie monitor en sal nie huiwer om verdere stappe te neem om die regte van die inwoners van Ogies te beskerm nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.