Die inwoners van Kampersrus het saam met die Hoedspruit-plaaswag en die VF Plus bewys dat gemeenskapsamewerking ’n doeltreffende antwoord is op munisipale diensleweringverval.
Waar die Mopani-distriksmunisipaliteit jare lank gefaal het, het die gemeenskap self ingespring en ’n kritieke pyplynprojek voltooi wat nou standhoudende water aan sowat 120 huishoudings in Kampersrus sal voorsien.
Die Kampersrus-watersuiweringsaanleg is reeds in 2008 opgerig, maar het in byna twee dekades nooit ten volle gefunksioneer nie. ’n Kortstondige poging in 2025 het misluk toe die hoofreservoir begin lek het.
Omdat die munisipaliteit nie vir die herstel van die reservoir of die nodige pyplynverbinding begroot het nie, het die projek tot stilstand gekom.
Op inisiatief van die VF Plus, en na ’n ooreenkoms met die burgemeester van Mopani, mnr. Pule Shai en satellietbestuurder mnr. Master Mashele, het die gemeenskap self die materiaal voorsien terwyl die munisipaliteit tegniese ondersteuning belowe het.
Op 17 April 2026 is ’n nuwe pyplyn van 250 meter suksesvol aangelê en direk aan die suiweringswerk gekoppel.
Hierdie lyn omseil die lekkende reservoir en verbind die aanleg met die bestaande waternetwerk. Mopani het onderneem om voortaan die instandhouding van die nuwe pyplyn te verseker.
Hierdie projek is ’n toonbeeld van wat bereik kan word wanneer gemeenskappe, plaaswagte en die regte politieke party saamwerk.
Die enigste oorblywende uitdaging is dat Eskom steeds ’n groter transformator moet installeer sodat die aanleg op volle kapasiteit kan funksioneer. Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen totdat hierdie opgradering afgehandel is.
Die party bedank die Hoedspruit-plaaswag, die plaaslike sakegemeenskap en elke persoon wat tyd, geld en moeite bygedra het om hierdie projek ’n werklikheid te maak.


