Mimi Coertse, Suid-Afrika se mees gevierde operasangeres, was ’n internasionale ster en die VF Plus het vandag in ’n parlementêre mosie gevra dat haar lewe en uitsonderlike prestasies vereer word en die nodige erkenning kry.
Coertse, wat op 27 April vanjaar op die ouderdom van 93 oorlede is, se bydrae tot die uitvoerende kunste wêreldwyd was fenomenaal.
In die mosie word kennis geneem van Coertse se glansryke internasionale loopbaan, veral by die Weense Staatsopera. Sy het oor byna twee dekades in meer as 400 produksies opgetree en lof ontvang vir haar tegniese briljantheid en artistieke uitnemendheid.
Coertse het talle prestigeryke eerbewyse ontvang, insluitend die titel van Oostenrykse “Kammersängerin”, een van die hoogste erkennings vir ’n operasangeres.
In Suid-Afrika het sy eerbewyse soos die Orde vir Voortreflike Diens en die Orde van Ikhamanga vir haar buitengewone bydrae tot musiek en kultuur ontvang.
Die mosie vra voorts dat erkenning gegee word aan haar rol as kulturele ambassadeur vir Suid-Afrika tydens haar internasionale loopbaan, waar sy Suid-Afrikaanse en Afrikaanse musiek op van die wêreld se mees prestigeryke verhoë bevorder het.
Coertse se onskatbare bydrae tot die ontwikkeling van die kunste in Suid-Afrika moet erkenning geniet, insluitend haar toewyding aan die mentorskap van jong musikante en haar betrokkenheid by inisiatiewe om klassieke en inheemse musiek te bevorder.
Haar lewenslange toewyding tot die bewaring en bevordering van die Afrikaanse kulturele erfenis is van groot belang, net soos haar blywende nalatenskap wat steeds geslagte Suid-Afrikaners inspireer.
Die VF Plus betuig sy meegevoel met Coertse se afsterwe aan haar familie, vriende en almal wie se lewens sy tydens haar glansryke loopbaan geraak het.


