Die nasionale raad van provinsies (NRP) se gekose komitee oor samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) se oorsigbesoeke aan die Vrystaatse munisipaliteite Masilonyana en Nketoana het ’n ontstellende prentjie ontbloot van munisipaliteite wat finansieel en administratief misluk.
Die leierskap van hierdie munisipaliteite steur hul doodeenvoudig nie aan wetgewing of provinsiale gesag nie.
Masilonyana het reeds vir ’n dekade ’n weerhouding-ouditmening ontvang. Dit beteken dat die finansiële bestuur en -stelsels van die munisipaliteit al vir tien jaar geheel en al ontoereikend is.
Infrastruktuur verval en dienslewering kom tot stilstand, terwyl meer as R190 miljoen se voorwaardelike toekennings (soos ontvang vanaf die nasionale staatskas) nie bestee is nie. Tesame hiermee is derdeparty-aftrekkings, soos pensioen- en mediesefondsbydraes, reeds vir jare agterstallig, alhoewel dit van werknemers se salarisse verhaal word.
Nketoana skuld sy krediteure ongeveer R1,7 miljard, terwyl agterstallige debiteure R1,5 miljard beloop. Die munisipaliteit se grootste krediteur, Eskom, is tien maande laas betaal en het aangedui dat hy die munisipaliteit se kragtoevoer wil ontkoppel.
Dienslewering het in albei munisipaliteite feitlik tot stilstand gekom. In Masilonyana is miljoene rand aan rioolwerke in Brandfort bestee, maar vervalle infrastruktuur verhoed dat dit inwerking gestel kan word.
In Nketoana is boorgate in dorpe soos Petrus Steyn, Arlington en Lindley buite werking weens vandalisme en kabeldiefstal, wat gemeenskappe sonder betroubare water laat.
Verder is dit uiters kommerwekkend dat Nketoana beweer slegs 15% van huishoudings ervaar ’n waternood, terwyl die menseregtekommissie (MRK) onlangs bevind het dat die munisipaliteit sy statutêre verpligtinge versuim en inwoners nie voldoende toegang tot skoon water het nie.
Swak bestuur in Masilonyana is duidelik uitgewys met die aanstelling van ’n onbevoegde finansiële hoof, mnr. Amos Mokoae, ten spyte van waarskuwings van die provinsiale departement van Cogta. Die departement moes die munisipaliteit hof toe neem om die aanstelling tersyde te stel.
Hierdie oorsigbesoek bevestig ’n breër tendens in die Vrystaat waar ANC-beheerde munisipaliteite toenemend sonder dissipline of aanspreeklikheid funksioneer.
Munisipaliteite tree onwettig op en versaak hul inwoners.
Die komende plaaslike regeringsverkiesing bied egter die geleentheid vir inwoners om by die stembus hul regte af te dwing en vir die VF Plus te stem vir daadwerklike verbetering.


