Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Chaos in Sol Plaatje-raad lyk georkestreer – tyd dat premier sy party in bedwang bring

Dit is reeds jare dat die VF Plus saam met ander opposisiepartye aanskou hoe die ANC se binnegevegte Kimberley vernietig. Dit kan nie so voortgaan nie en die tyd het aangebreek dat die Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul, ‘n einde hieraan bring.

Die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit, waarin Kimberley geleë is, se ANC-binnegevegte strek oor jare, maar het ‘n laagtepunt bereik in die stryd tussen die burgemeester, me. Martha Bartlett en die speaker, me. Dipuo Peters aan die een kant en die munisipale bestuurder, mnr. Thapelo Matlala, aan die ander kant.

Vandag was ‘n absolute laagtepunt, toe ‘n spesiale raadsvergadering totaal ontwrig is en geëindig het sonder dat dit ontbind is.

‘n Dispuut oor ANC-raadslede wat geskors is, het tot heelwat rumoer binne en buite die raadsaal gelei, totdat ‘n blikkie met iets soos traangas uit die openbare gallery in die raadsaal gegooi is.

Verskeie raadslede is ook met eiers vanaf die galery getref. Raadslede het bespiegel of die speaker, wat van die begin af ‘n masker gedra het, dalk vooraf geweet het wat sou volg.

Hierdie soort optrede is in Sol Plaatje nie ongekend nie. Wat wel die wenkbroue laat lig, is ‘n video wat Dawie Griesel, VF Plus-raadslid, agterna geneem het. Dit toon hoe een van die persone wat op die galery aanwysings aan ander oproeriges gegee het, aan elkeen iets vanuit sy motor oorhandig. Dit dui op ‘n blatante vorm van “huur-‘n-skare”- politiek.

Wat hier aan die gang is, is ‘n regerende party wat nie oor sy faksies beheer het nie – ironies op dieselfde dag as wat die premier ‘n hoëvlak-beleggingskonferensie in die stad aanbied. Niks kan slegter vir beleggingsvertroue wees as ‘n munisipale regering wat in wanorde ontaard nie.

Die VF Plus dring by dr. Saul daarop aan dat hy orde in sy party moet herstel, sodat die provinsiale hoofstad staande kan bly totdat die ANC in die komende plaaslike verkiesing uit die kussings gelig kan word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.