Die VF Plus het in ‘n skrywe aan die minister van basiese onderwys, me. Siviwe Gwarube, versoek dat die spertyd vir openbare deelname oor veranderinge aan die kurrikulum vir geskiedenis met veertien dae verleng word.
Die dokumente waarop kommentaar gevra word, is lywig en verg deeglike ondersoek. Die uitnodiging tot openbare kommentaar is op 20 Maart vanjaar in die Staatskoerant gepubliseer en stel die spertyd op 19 April. Hierdie tydperk strek oor twee langnaweke en ook die jaarlikse Paasvakansie.
In onderwyskringe word dit dikwels vir sportgeleenthede aangewend, wat tyd in beslag neem.
Die departement maak dit nie maklik om die toepaslike dokumente te vind nie. Terwyl die openbare kommunikasie telkens ‘n opsomming van ‘n bladsy of twee bevat, is daar nêrens ‘n skakel wat die belangstellende leser na die toepaslike Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (algemeen as CAPS bekend volgens die Engelse afkorting) neem nie.
Iemand wat wel die dokumente op die departement se webwerf opspoor, tref omvattende verduidelikings van filosofiese en metodologiese grondslae vir aanbieding van die vak aan. Hierdie verduidelikings leen hulself nie tot ‘n eenvoudige “ja” of “nee” reaksie nie.
Dit lyk egter asof die departement van deelnemers verwag om binne smal buitelyne te reageer. ‘n Vorm word voorsien, waar kommentators langs elke graad en tema ‘n blokkie het om kwessies uit te lig. Dit lyk of die departement geen reaksie op filosofiese en metodologiese fasette verwag nie.
Die VF Plus wil self deeglik reageer, maar ondersteuners ook begelei in weldeurdagte deelname. Twee bykomende weke behoort te help om die hele proses te versterk.
Diegene wat die volledige dokumente wil bestudeer, kan dit met die volgende skakels bereik:


