Die sogenaamde Groendruppel-toekenning wat die nasionale departement van water en sanitasie aan die Msukaligwa-plaaslike munisipaliteit toegeken het, is misleidend en ’n belediging vir inwoners wat daagliks die gevolge van swak waterbestuur moet dra.
Die ironie is dat dieselfde departement wat die munisipaliteit nou vereer, hom in September 2023 suksesvol hof toe geneem het vir die oortreding van die Nasionale Waterwet.
Hierdie toekenning beteken dus in werklikheid dat Msukaligwa beloon word vir die nakoming van ’n hofbevel en nie vir eie meriete of goeie bestuur nie.
Die regstappe was noodsaaklik omdat die munisipaliteit jare lank versuim het om op te tree, ten spyte van herhaalde waarskuwings, kennisgewings en direktiewe van die departement sedert 2016 oor waterbesoedeling en vervalle infrastruktuur.
Die Groendruppel-evaluering is verder problematies omdat die departement dit self bepaal en uitvoer sonder enige onafhanklike oudit of werklike openbare deursigtigheid. Dit plaas die geloofwaardigheid van die hele proses onder ernstige verdenking.
Intussen wys die werklikheid op die grond ’n heel ander prentjie. Volgens die ouditeur-generaal (OG) het Msukaligwa in die 2024/25-boekjaar ’n waterverlies van 72% aangeteken, ’n skokkende aanduiding van wanbestuur. Daarby voldoen slegs 47% van drinkwatermonsters aan mikrobiologiese standaarde, wat ’n ernstige gesondheidsrisiko vir inwoners inhou.
Probleme met rioolstelsels duur voort, terwyl verhoogde vlakke van mangaan en sulfaat, waarskynlik gekoppel aan mynaktiwiteite, herhaaldelik deur die VF Plus onder die munisipaliteit se aandag gebring is sonder enige betekenisvolle optrede.
Dorpe soos Breyten en Chrissiesmeer sit steeds met gereelde watertekorte, ten spyte van projekte wat na bewering afgehandel is. Die VF Plus se skrywes hieroor sedert 2022 is grootliks geïgnoreer..
Die enigste rede vir enige beperkte verbetering is dat die munisipaliteit deur ’n hofbevel gedwing is om op te tree.
Dit is duidelik dat hierdie toekenning nie ’n weerspieëling van werklike prestasie is nie, maar eerder ’n poging om ’n ANC-beheerde munisipaliteit in ’n gunstige lig te stel.
Inwoners beleef nie ’n suksesverhaal nie, maar die daaglikse realiteit van droë krane, swak watergehalte en infrastruktuur wat uitmekaar val. Hierdie toekenning is nie ’n prestasie nie, dit is ’n klug.
Die VF Plus bly verbind tot feitegegronde aanspreeklikheid en sal voortgaan om druk toe te pas om seker te maak dat Msukaligwa voldoen aan die voorwaardes van die hooggeregshofbevel.
Inwoners verdien beter as wat die ANC kan bied. Die VF Plus bied die leierskap van gesonde verstand, aanspreeklikheid en werklike dienslewering wat die gemeenskap nodig het.


