Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

ANC-uitlatings is deursigtige poging om aandag af te lei van werklike korrupsiekrisis in Tshwane

Die jongste uitlatings van die ANC se Groter Tshwane-streek rakende korrupsie in die Tshwane-metropolisie (TMPD) onder die vorige administrasie waarvan die VF Plus deel was, is niks anders nie as ʼn deursigtige poging om die aandag van die werklike korrupsiekrisis in die Tshwane-metro af te lei.

Terwyl die Madlanga-kommissie tans getuienis aanhoor oor die manipulering van tenders, poog die ANC-streeksekretaris, George Matjila, om die fokus na die vorige administrasie te verskuif.

Die VF Plus verwelkom die Madlanga-kommissie se ondersoek na onreëlmatige sekuriteitstenders ter waarde van sowat R2,9 miljard.

Dit sluit in die omstrede rol van Triotic Protection Services, ’n maatskappy wat voorheen aan die huidige onderburgemeester, Eugene Modise, gekoppel is. Volgens getuienis het bod-evalueringskomitees hierdie spesifieke tender twee keer vir kansellasie aanbeveel weens growwe onreëlmatighede, dog het die proses voortgegaan.

Die VF Plus daag die ANC-leierskap uit om die volgende feite te beantwoord:

  1. Integriteit en sekuriteitsklarings binne die TMPD:
    Tydens die vorige administrasie is beamptes in die keuringseenheid verwyder omdat hulle hul Staatsveiligheidsagentskap (SSA)-klarings gedruip het. Daar was ernstige bewerings dat dié beamptes kollegas afgepers het om strafregtelike rekords te verberg.



Hierdie optrede was gegrond op gedokumenteerde risiko’s en is deur die destydse TMPD-leierskap gesteun. Indien die ANC beweer hierdie verwyderings was onwettig, daag die VF Plus mnr. Matjila uit om geldige SSA-klaringsertifikate vir daardie spesifieke persone voor te lê.

  1. Die Triotic-tender van R2,9 miljard:
    Getuienis voor die kommissie het Triotic Protection Services as ’n sleutelbegunstigde van die betwiste tender uitgewys. Forensiese ondersoeke dui daarop dat die onderburgemeester, Eugene Modise, moontlik nie sy belange in die maatskappy volledig of betyds verklaar of afgestaan het nie. Die VF Plus eis ’n volledige ouditspoor van enige beweerde verkoop van sy aandele, asook deursigtigheid oor waarom dié maatskappy steeds met munisipale kontrakte bevoordeel word.
  2. Die “watertenker-mafia” en infrastruktuur-verval:
    Onder die huidige ActionSA/ANC-geleide koalisie het uitgawes aan private watertenkwaens tot honderde miljoene rande opgeskiet, terwyl die metro se eie infrastruktuur agteruitgaan. Getuienis koppel mnr. Matjila aan navrae oor beweerde betalings aan tenkermaatskappye met gebrekkige dokumentasie. Die publiek het die reg om te weet watter rol politieke figure speel in die doelbewuste afhanklikheid van privaat watertenkwaens ten koste van permanente herstelwerk aan die waternetwerk.

Die VF Plus beklemtoon dat sy burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid ’n bewese rekord het van aktiewe optrede teen korrupsie. Sy termyn is gekenmerk deur die ontslag van beamptes wat by afpersing betrokke was en die aandrang op forensiese verslae om bedrog binne die TMPD bloot te lê.

Die Madlanga-kommissie is nie ’n politieke instrument vir “viktimisering” nie, maar ’n noodsaaklike proses om korrupsie tot op die been oop te vlek.

Die VF Plus eis dat die kommissie sy werk sonder politieke inmenging voltooi.

Die party nooi die ANC-leierskap uit om sy samewerking te gee deur alle betrokke dokumente, klaringsertifikate en transaksie-rekords aan die kommissie en die publiek beskikbaar te stel.

Inwoners van Tshwane verdien ’n professionele metropolisiemag en ’n skoon administrasie wat nie gekompromitteerde netwerke beskerm nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.