Die wyse waarop oorskot van Khoisan-mense van die Namakwaland vandeesweek herbegrawe is, was ewe onsensitief as hul verwydering in vorige eeue en die VF Plus deel die gemeenskap se ontevredenheid hieroor.
Die party onderskryf daarom mnr. Paulus Swartbooi, woordvoerder van die Khoi- en San-gemeenskap in Steinkopf, se klag by die menseregtekommissie (MRK), oor die wyse waarop die herbegrafnis van hul voorvaderlike oorskot vandeesweek hanteer is.
Die oorskot is in vorige eeue vir navorsingsdoeleindes uit hul oorspronklike grafte verwyder.
Beskikbare inligting dui daarop dat ’n kontrakteur die proses sonder die nodige respek, waardigheid en kulturele sensitiwiteit uitgevoer het. Kiste met die beendere is saam in ‘n massagraf geplaas en gevul sonder om die posisie van spesifieke mense se beendere te merk.
Die mense is ook nie afsonderlik op hul historiese rusplekke herbegrawe nie, maar almal saam in een massagraf op Steinkopf.
Hierdie situasie is nie net ontstellend nie, maar dui op ernstige nalatigheid en swak beplanning deur die regering. Dit was alombekend dat die aangeleentheid vir die mense baie sensitief was en groot pyn veroorsaak het.
Die gevoel onder mense is dat die herbegrafnis selfs meer skade aangerig het tussen gemeenskapslede van Steinkopf onderling en die owerheid.
Swartbooi het sy klag op 24 Maart 2026 ingedien. Daarvolgens word die volgende grondwetlike regte geskend:
• Artikel 10: Die reg op menswaardigheid
• Artikels 30 en 31: Die reg op kulturele en godsdienstige praktyke
• Artikel 24: Die beskerming van omgewings- en kulturele erfenis
Dit oortree ook die Nasionale Erfenishulpbronnewet van 1999, wat grafte en voorvaderlike oorskot beskerm.
Die klag beskryf die hantering van die herbegrawing as “onmenslik, onwettig en diep disrespekvol.” Dit wys tereg daarop dat die oop en swak versorgde grafte ’n ernstige skending van waardigheid en kulturele praktyke verteenwoordig.
Dit dui verder op die ontheiliging van heilige grond en is ’n duidelike miskenning van die Khoi en San se kulturele regte.
Die VF Plus steun die volgende dringende eise soos vervat in die klag:
• Onmiddellike en waardige herstel en afsluiting van alle grafte
• ’n Onafhanklike en deursigtige ondersoek na die aangeleentheid
• Volle aanspreeklikheid en dissiplinêre optrede teen verantwoordelikes
• Betekenisvolle betrokkenheid van die betrokke gemeenskappe
• ’n Openbare verduideliking en amptelike verskoning.
Daarbenewens is dit onaanvaarbaar dat ’n diep kulturele en geestelike proses deur regeringsfigure vir eie gewin aangegryp is.
Die VF Plus se siening is dat alle mense dieselfde kulturele erkenning moet kry.
Die VF Plus sal druk toepas vir geregtigheid, aanspreeklikheid en die herstel van waardigheid vir die betrokke gemeenskappe.


