Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

ANC/EFF-koalisie se swak bestuur van elektrisiteitstelsel stel Ekurhuleni se finansies in gevaar

Die VF Plus in die Ekurhuleni-metroraad het in verskeie raadsvergaderings gewaarsku dat die regerende ANC/EFF-koalisie se gebrekkige bestuur van die elektrisiteitsverskaffingstelsel die metroraad en sy inwoners in finansiële chaos gaan dompel.

Dit kom ná ‘n beslissing in die hooggeregshof waar die nasionale energiereguleerder (Nersa), se goedgekeurde kragtariefverhogings vir Ekurhuleni vir die 2024/2025-geldjaar, tersyde gestel word.

Die hooggeregshof het onder meer beslis dat Ekurhuleni weer deursigtige kosteberekenings vir elektrisiteitsverskaffing moet saamstel, wat in ag geneem moet word by die herberekening van tariefverhogings.

In sy uitspraak het waarnemende regter Anthony Millar nie kruissubsidiëring eksplisiet verbied nie, maar die saak het wel sy oorsprong daarin gehad dat grootmaatverbruikers ‘n oordadige verhoging moet betaal terwyl klein ondernemings en huishoudings gesubsidieer word.

Ekurhuleni het nou tot 30 Junie om gewysigde berekenings in te dien, wat kan beteken dat huishoudings moontlik terugwerkend sal moet betaal vir elektrisiteit wat al meer as twee jaar gelede gebruik is.

Hierdie tersydestelling van Nersa se goedkeuring van Ekurhuleni se elektrisiteitstariewe is ’n verdoemende bewys van die ANC/EFF-koalisie se onbevoegde bestuur.

Dit is onaanvaarbaar dat politieke wanbestuur en regulatoriese mislukkings op gewone verbruikers neerkom.

Die uitspraak stel Ekurhuleni ook bloot aan moontlike terugbetalings, regsaksies en verlies aan inkomste – wat ’n reeds brose begroting verder kan destabiliseer.

Wanneer kontraktuele en regulatoriese prosesse misluk, is dit die belastingbetaler wat uiteindelik die rekening betaal.

Die VF Plus wil dit duidelik stel dat inwoners nie gedwing kan word om die finansiële skade van die ANC/EFF-koalisie se wanadministrasie te dra nie.

Ondernemings en huishoudings het die reg op voorspelbare, billike en wettige elektrisiteitspryse en nie op finansiële eksperimente wat ekonomiese stabiliteit ondermyn nie.

Die VF Plus sal nie toelaat dat die ANC/EFF-koalisie se mislukkings Ekurhuleni verder in ’n finansiële en diensleweringskrisis dompel nie, en staan onwrikbaar aan die kant van inwoners en ondernemings wat stabiliteit, bekostigbaarheid en verantwoordbare bestuur verdien.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.