Die VF Plus eis in ʼn skrywe aan die direkteur van infrastruktuur van die Dr. Beyers Naudé-plaaslike munisipaliteit, mnr. Bennie Arendse, dat die munisipaliteit dringend optree teen een van sy kontrakteurs wat onwettig onverwerkte riool stort.
Die rioolstortings vind plaas in ʼn vleiagtige gebied wat verbind is aan die Kraairivier wat deel is van die Visrivier-stelsel. Dit is ook net sowat 30 meter vanaf ʼn kleuterskool.
Synde dit ʼn kontrakteur van die munisipaliteit is, is die munisipaliteit verantwoordelik vir die toesig en nakoming van omgewings- en gesondheidsregulasies.
Die praktyk duur reeds ʼn geruime tyd ondanks herhaalde klagtes van die gemeenskap.
Blootstelling aan rou riool hou ernstige gesondheidsrisiko’s in, veral vir jong kinders. Moontlike siektes sluit in diarree, cholera, hepatitis A en velinfeksies.
Die besoedeling van grond en waterbronne skep ook ‘n langtermyn-risiko vir die gemeenskap en afstroom-gebiede langs die Kraairivier.
Die VF Plus eis dat die munisipaliteit dadelik die volgende doen:
- Die onwettige storting staak en verdere oortredings voorkom.
- Die betrokke kontrakteur voor stok kry, hul kontrak hersien en gepaste maatreëls tref vir oortredings.
- Die gebied opruim en die besoedeling verwyder om verdere gesondheids- en omgewingsrisiko’s te beperk.
- Noodmaatreëls in werking stel om die kleuterskoolkinders, onderwysers en omliggende inwoners te beskerm.
Die munisipaliteit het ’n plig om sy verantwoordelikheid na te kom en daadwerklik op te tree.
Die VF Plus verwag dat die munisipaliteit binne 14 dae ’n duidelike plan en tydlyne vir herstelwerk en langtermynoplossing aan die gemeenskap voorlê.
Die gesondheid en veiligheid van inwoners, veral jong kinders, kan nie langer met hierdie storting bedreig word nie.


