Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Dringende ingryping nodig in Eskom-kragverspreidingsgebiede in Kaapstad

Langdurige kragonderbrekings in Eskom-kragverspreidingsgebiede binne die Stad Kaapstad het ʼn ernstige krisis vir inwoners van dié gebiede geraak.

Honderde gesinne sit weke en selfs maande sonder krag. Dit het reeds tot groot verliese gelei met kos wat bederf, mediese voorrade wat onbruikbaar raak en gesinne wat in die donker moet klaarkom.

In Blackheath moes ’n diabetiese ma in die hospitaal opgeneem word nadat sy nie haar insulien kon verkoel nie. In Joostenberg Vlakte is inwoners meegedeel dat daar meer as 600 klagtes in die gebied is en dat hulle geduldig moet wag.

Eskom voorsien tans slegs 25% tot 30% van die metro se huishoudings van elektrisiteit, terwyl die Stad Kaapstad se energie-direktoraat die oorblywende 70% tot 75% bedien.

Tog word die Stad deur Nersa se gelisensieerde verspreidingsgrense verhinder om herstelwerk in Eskom-gebiede te doen.

Die VF Plus het reeds formeel aan Eskom se bestuur geskryf oor die ongeveer 40 huishoudings wat tans sonder krag is. Hierdie gesinne sluit bejaardes, babas en siek persone in wat besonder kwesbaar is en nie sonder elektrisiteit kan klaarkom nie.

Indien Eskom nie self die krisis kan hanteer nie, moet die Stad se energie-direktoraat toegelaat word om infrastruktuur in Eskom-gebiede te herstel en te onderhou.

Die huidige situasie is onvolhoubaar. Duisende inwoners leef sonder basiese dienste, terwyl daar geen vergoeding is vir die verliese wat hulle ly nie.

Vorige pogings om ’n oplossing te vind, het geen betekenisvolle vordering opgelewer nie.

Tot dusver is daar ook geen sigbare stappe van die burgemeesterskomiteelid vir energie of die burgemeester om regsaksies verder te dryf nadat Eskom die Stad se vorige voorstelle verwerp het nie.

Die VF Plus doen daarom ’n dringende beroep op beide Eskom en die Stad Kaapstad om sonder verwyl ’n noodvergadering te belê en ’n volhoubare oplossing vir hierdie aanhoudende krisis te vind.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.