Die VF Plus neem met skok kennis dat die minister van landbou, mnr. John Steenhuisen, die vooraanstaande veearts, dr. Danie Odendaal, se lidmaatskap van die ministeriële taakspan vir staatsbeheerde siektes beëindig het.
In ‘n skrywe aan Odendaal verklaar Steenhuisen dat hy met spyt kennis neem dat Odendaal nog nie die Verklaring van Onpartydigheid en Vertroulikheid onderteken het nie.
Daarom beëindig hy Odendaal se lidmaatskap met onmiddellike inwerkingtreding.
Odendaal was oor dekades iemand wat met gesag oor aansteeklike siektes gepraat en opgetree het. Sy kundigheid staan bo alle twyfel, soos sigbaar daarin dat hy op elke ministeriële taakspan oor bek-en-klouseer sedert 2016 gedien het.
Die beëindiging van sy diens is ‘n slag vir doeltreffende optrede teen die siekte.
Odendaal was ook oor die afgelope maande krities oor die regering se weifelende optrede teen die siekte. Dit laat die indruk dat die optrede liewer teen sy kritiek gemik is, as oor vrese dat hy vertroulikheid sal skend.
Die VF Plus kan nie sien dat die verwikkeling enigsins kan bydra om die epidemie te bestry nie.


