Die ANC verkies duidelik om omstrede persone in sleutelposisies aan te stel, eerder as om die diensleweringskrisis in die Vrystaat daadwerklik aan te spreek.
Die VF Plus neem kennis van die aanstelling van Agnes Koloi as administrateur by die Nketoana-plaaslike munisipaliteit, wat tans onder ’n artikel 139-ingryping geplaas is.
Koloi staan tereg op korrupsieklagte wat spruit uit haar tyd as burgemeester van die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit. Sy het in 2023 uit haar pos as LUR vir maatskaplike ontwikkeling bedank ná toenemende openbare en politieke druk.
Dit is kommerwekkend dat ’n persoon wat in ’n korrupsiesaak betrokke is, aangestel word om ’n reeds sukkelende munisipaliteit te help stabiliseer, veral sonder enige bewese rekord van suksesvolle munisipale ingryping.
As voorsitter van die portefeuljekomitee oor samewerkende regering, sal die VF Plus die LUR, Saki Mokoena, versoek om Koloi se aanstelling volledig te motiveer en sal ook duidelike skriftelike antwoorde eis oor haar mandaat en die verwagte uitkomste van die ingryping by Nketoana.
Die VF Plus sal ook streng toesig hou oor die vordering van hierdie ingryping, net soos reeds gedoen word met ander artikel 139-ingrypings regoor die Vrystaat.
Die werklikheid is dat hierdie optredes tot dusver geen tasbare verbetering in munisipale funksionering en dienslewering gebring het nie.
Uiteindelik bly die kernprobleem politieke bestuur wat misluk en daarom is dit noodsaaklik dat kiesers in die komende munisipale verkiesing die ANC uit munisipale rade verwyder.


