Die enorme styging in toegangsfooie van tussen 300- en 600% by die Bloemhofdam hou ‘n ernstige bedreiging in vir die plaaslike ekonomie van Bloemhof.
Die Noordwes-parkeraad het die stygings in Desember geïmplementeer sonder behoorlike konsultasie met die Lekwa-Teemane-plaaslike munisipaliteit of belangegroepe in die Bloemhof-gemeenskap.
Toerisme is ‘n kerndeel van die plaaslike ekonomie met die Bloemhofdam as die spilpunt. Groot nasionale en internasionale hengelkompetisies word gereeld in Bloemhof aangebied wat duisende besoekers jaarliks lok.
Sommige hengelverenigings het reeds aangedui dat hulle dit oorweeg om die kompetisies te skuif na meer bekostigbare oorde.
Dit sal rampspoedig vir Bloemhof se toerismebedryf en plaaslike ondernemings wees.
Die VF Plus het in ‘n skrywe aan die burgemeester van die munisipaliteit, Moses Mohlabi, daarop aangedring dat hy dringend met die Noordwes-parkeraad skakel om ‘n proses van behoorlike konsultasie en ‘n hersiening van die situasie te fasiliteer om bekostigbare toegang tot Bloemhofdam te verseker.
Die VF Plus sal voortgaan om te stry vir die beskerming en uitbouing van die plaaslike ekonomie in Bloemhof en Christiana.


