Die hernuwing en volgehoue insluiting van Suid-Afrika in die African Growth and Opportunity Act (AGOA) is nie net wenslik nie, maar absoluut noodsaaklik vir die land se ekonomiese oorlewing, werkskepping en groei.
Agoa bied kritiese voorkeurtoegang tot die Amerikaanse mark, wat duisende werksgeleenthede ondersteun en miljarde rande se uitvoere moontlik maak.
Suid-Afrika se ekonomie leun al hoe swaarder op handel, veral te midde van dalende kommoditeitspryse en wêreldwye aanvraagverskuiwings.
Ons grootste handelsvennoot, China, se verdere verlangsaming plaas ekstra druk op ons reeds brose ekonomie.
In 1994 het Suid-Afrika nog 28% van Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) bygedra, maar teen 2024 het dit tot 14% gekrimp. Wêreldwyd het Suid-Afrika se aandeel van 0,54% tot 0,37% gedaal. Hierdie agteruitgang is onaanvaarbaar en wys duidelik op jare se wanbestuur.
Ten spyte van die Amerikaanse Senaat se goedkeuring van Agoa se verlenging, bly Suid-Afrika se insluiting onseker en die skuld lê vierkantig by die ANC se roekelose buitelandse beleid.
Militêre samewerking met China, Rusland en Iran, gekombineer met nuwe Amerikaanse handelstariewe (insluitend ‘n moontlike 25% heffing op lande wat Iran steun), bedreig Suid-Afrika se toegang tot hierdie lewenslyn.
Die ANC se ideologiese verbintenisse plaas duisende werksgeleenthede en ons ekonomiese herstel in gevaar. Dit is tyd vir ‘n drastiese heroorweging vir ‘n verantwoordelike, Wes-gerigte buitelandse beleid wat prioriteit gee aan vrye handel, marktoegang en pragmatisme bo dogma.
Die VF Plus sal onverpoosd druk op die regering uitoefen om hierdie beleid te verander en ‘n ware vryemark-ekonomie te bevorder.
Suid-Afrika verdien beter as ‘n regering wat ons handelsgeleenthede opsetlik in gevaar stel.


