Die VF Plus verwerp die provinsiale departement van openbare werke in Noordwes se voorneme om 23 residensiële erwe in Potchefstroom op ‘n rassegrondslag op te veil.
Die departement het met ‘n openbare kennisgewing in die plaaslike media aangekondig dat die erwe in die Miederpark- en Baillie Park-woonbuurte opgeveil gaan word en het spesifiek gemeld dat “natuurlike persone van voorheen benadeelde gemeenskappe wat nog nooit grond besit het nie” in die proses geteiken sal word.
Geen melding word gemaak of daar, selfs in hierdie rasgedrewe proses, seker gemaak sal word dat die betrokke staatsbates op ‘n verantwoordelike wyse teen markverwante pryse van die hand gesit sal word nie.
Die erwe ter sprake is meestal geleë in middel tot hoër inkomste woonbuurte met ‘n groot inkomstepotensiaal vir die provinsie.
Benewens die potensiaal van ‘n substantiewe kontantinspuiting vir Noordwes, kan die behoorlike ontwikkeling en besetting van hierdie erwe ook die plaaslike ekonomie stimuleer en die JB Marks-plaaslike munisipaliteit se belastingbasis verbreed.
Dit kan egter slegs gebeur indien seker gemaak word dat markverwante pryse vir die erwe betaal word en dat dit volgens die voorgeskrewe standaarde deur verantwoordelike eienaars ontwikkel word.
Die feit dat die ANC-beheerde regering in Noordwes steeds volhard met rasgedrewe prosesse, selfs met die verkoop van staatsbates, bly ‘n euwel en skep ‘n bedreiging vir die ekonomie en die volhoubare ontwikkeling van Potchefstroom en die provinsie.
Die VF Plus sal die proses noukeurig dophou en sal tydig optree teen enige ongerymdhede.


