Drie nuwe sinkgate het die afgelope week langs die R500 buite Carletonville gevorm nadat groot dele van die Wes-Rand swaar reën en hael ervaar het.
Die sinkgate lê op die roete tussen Carletonville en Ventersdorp en is slegs een kilometer vanaf die Laerskool Rooipoort.
Die VF Plus waarsku motoriste om versigtig te wees, veral in die reënseisoen wat veroorsaak dat die sinkgate opvul en vinnig vergroot.
Die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) het die pad reeds gedeeltelik gesluit en bestuurders word aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik, soos die N14, om Carletonville te bereik.
Die gebied rondom die R500 is bekend vir sy dolomietiese grondgebied en die vorm van nog sinkgate kan nie uitgesluit word nie.
Die VF Plus het aanbeveel dat die munisipaliteit ‘n groter gedeelte van die R500 moet sluit omdat dit gevaarlik vir motoriste is om op die pad te beweeg.
Merafong het nog nie aangedui of geld bewillig gaan word om die sinkgate te rehabiliteer nie.
Sinkgate is ʼn algemene gesig in Merafong. Khutsong het reeds meer as 209 sinkgate, wat gelei het tot beskadigde huise, die sluiting van ‘n dagsorgsentrum en die ontruiming van klaskamers by ‘n skool.
Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het die gebied reeds in Oktober besoek wat met die nasionale regering en die munisipaliteit saamwerk om ‘n rampbestuursplan saam te stel om die probleem aan te spreek.
Die VF Plus is van mening die belanghebbendes besig is om hul voete te sleep terwyl die sinkgate oor die hele Merafong inval en die regering na jare nog niks gedoen het om die noodsituasie aan te spreek nie.
Die VF Plus sal voortgaan om druk op die munisipaliteit en provinsiale regering te plaas om te sorg dat ‘n rampbestuursplan in werking gestel word om sinkgate te rehabiliteer.


